Die produksie van ongepasteuriseerde melk in Suid-Afrika is op ’n “rekord”-hoogtepunt, veral in September en Oktober vanjaar, sê die Suid-Afrikaanse Melkverwerkers-organisasie (Sampro).
Luidens ’n nuusverklaring dui Melk SA se jongste verslag aan dat melkproduksie in dié twee maande hoër is as in dieselfde tydperk in die voorafgaande drie jaar.
Die verslag dui ook aan dat melkproduksie in die eerste 10 maande van die jaar effens hoër was vergeleke met die eerste 10 maande van verlede jaar. Die verskil tussen dié tydperke in 2009 en vanjaar is betekenisvol groot.
Seisoenaal
Mnr. Alwyn Kraamwinkel, hoof uitvoerende beampte van Sampro, sê dié syfers dui aan dat die produksie van ongepasteuriseerde melk in Suid-Afrika seisoenaal is.
Die laagste produksie per dag word gewoonlik in die winter, in Junie, aangeteken, terwyl die hoogste produksie in die lente, in Oktober, gelewer word.
As ’n voorbeeld daarvan verduidelik hy dat die daaglikse produksie in Oktober verlede jaar 37% hoër was as die daaglikse produksie in Junie verlede jaar.
PPI
Tradisioneel is die produksieprys-indeks (PPI) van ongepasteuriseerde melk in die eerste ses maande van die jaar hoog, terwyl dit in die laaste ses maande daal. In die afgelope drie jaar was die verskil tussen die hoogste PPI en die laagste PPI tussen 13,6 % en 14,2 %.
Sampro sê dié tradisionele daling het nie vanaf Junie dié jaar voorgekom nie, wat beteken dat die indeks hoër was vir September en Oktober vanjaar.
Volgens Statistiek SA het die PPI vir suiwelprodukte in Oktober vanjaar met 1,8% gestyg, terwyl die indeks vir ongepasteuriseerde melk met 6,4% gestyg het. Vir die tydperk van Januarie 2007 tot Oktober vanjaar het die PPI vir suiwelprodukte met 37,4% gestyg, terwyl die PPI vir ongepasteuriseerde melk terselfdertyd met 48,5% toegeneem het.
5 Desember 2011