Die prys van onverwerkte melk gaan oor die volgende ses maande na verwagting internasionaal daal.
Só voorspel die Suid-Afrikaanse Melkverwerkers-organisasie (Sampro). Luidens die organisasie se jongste verslag oor sleutel-markaanduidings is dit duidelik dat die prys van onverwerkte melk sedert die begin van vanjaar sywaarts beweeg.
Die organisasie sê die feit dat melkproduksie in die Suidelike Halfrond in die derde kwartaal van vanjaar sy piek gaan bereik, het ’n noemenswaardige invloed op die prys van melk. Verder waarsku die organisasie dat die prys ook beïnvloed kan word deur weers-, ekonomiese en politieke veranderlikes.
Lees hier meer oor die invloed van bek-en-klouseer op die melkbedryf.
Die plaaslike mark
Volgens die verslag het primêre melkproduksie verlede jaar en in Januarie en Februarie vanjaar geskiedkundig hoë vlakke bereik.
Die organisasie sê hoewel die produksieprys indeks (PPI) van onverwerkte melk in Suid-Afrika meer aan stygings en verlagings blootgestel is as dié van melkprodukte, het die PPI van onverwerkte melk sedert die begin van 2007 op hoër vlakke as dié van melkprodukte beweeg.
Die PPI vir onverwerkte melk het wel oor die afgelope jaar ’n daling aangeteken, wat gevolglik daarop moet dui dat produksiekoste met meer gestyg het as wat die prys van onverwerkte melk gestyg het.
Sampro sê die melkproduksie in Suid-Afrika sal vanjaar deur ekonomiese en weerstoestande beïnvloed word. Die hoeveelheid reën wat in die somer- en winterreëngebied voorkom, sal ook ’n noemenswaardige invloed op produksie hê.
Hou Landbouweekblad dop vir meer inligting.
13 Junie 2011