Ek het Kobus Steenekamp destyds leer ken tydens die jaarlikse Nasie in Gesprek-paneelbesprekings op die Nampo-oesdag. Kobus was een van daardie gaste wat ’n mens graag op jou paneel wil hê, maar wat jou altyd op jou tone gehou het.
Met ’n fyn humorsin kon hy die trant van enige gesprek in ’n oogwink omswaai. My vriendskap met Kobus het egter werklik aan die gang gekom toe ek een aand in 2017, so bietjie ná 22:00, ’n boodskap op my foon kry: “Het jy ’n Amerikaanse visum?”
Dit is nie die tipe boodskap waarop jy per teks antwoord nie, maar een wat ’n telefoonoproep werd is. En só is ek saam met ’n lekker groep graanouens vir twee weke Amerika toe.