Die onlangse droogte en huidige sprinkaanplaag in die Karoo neem my gedagtes ver terug. Ons liewe platteland is vol sout-van-die-aarde mense. Toentertyd is daar gereeld bid- en dankdienste vir reën op die platteland gehou.
By die biddienste was daar nooit genoeg sitplek nie en moes stoele ingedra word. Ek kan ongelukkig nie dieselfde van die dankdienste sê nie. Ek was nog maar klein, maar ek onthou die groot omie wat altyd op dieselfde plek in die kerk gesit het.
Wanneer die gebedstyd aangekondig is, het hy eerste weggetrek. Indien enigiemand anders ook sou wou bid, is hy doodgepraat deur die oom se donderende, diep stem wat deur die statige kerkgebou weergalm het.