Ek is so bly dat ek Landbouweekblad se herlewingslandboukonferensie van 12-14 Maart op Reitz bygewoon het. Wat ’n ondervinding was dit!
Dit verstom my dat ek steeds so onkundig oor hierdie revolusionêre manier van boer (en natuurlik oor die fyner besonderhede daarvan) is, al het ek al daarvan gehoor en soms ’n bietjie skepties daaroor gelees. Ai, die verstoktheid van oud word!
Toe my seun Christiaan, wat op sandgrond by Viljoenskroon boer, my inlig dat die beginsel behels dat daar deurlopend groenigheid op die land moet wees, het ek “geweet” dit is bog.