Dit is opvallend hoe die ANC-regering die afgelope weke probeer om alle skuld op Eskom te plaas vir die huidige elektrisiteitskrisis. Dít terwyl ons nou weer ongekende toepassings van tot fase 6-kragbeperkings beleef. Die skrale troos is dat Suid- Afrikaners fase 4 en 5 om die beurt moet beleef.
“Beurtkrag” is egter ’n eufemisme vir die huidige kragkrisis. Terwyl pres. Cyril Ramaphosa eintlik in Davos, Switserland, moes wees om nuwe beleggings na ’n beleggingsonvriendelike Suid-Afrika te lok, moes hy die besoek opskort en aandag aan die krisis tuis gee.
Die onwillekeurige vraag is of die elektrisiteitskrisis die werklike rede was en of die ANC se interne faksiegevegte nie dalk die onderliggende rede was nie. Inderhaas en midde-in fase 6 moes die president die nasionale energiekrisiskomitee, die direksie van Eskom en opposisieleiers ontmoet om aandag aan die krisis te gee.