Die eerste boere van Europese afkoms het hulle sowat 200 jaar gelede in die Karoo kom vestig. My oupagrootjie is in 1828 op Rietfontein, halfpad tussen die huidige De Aar en Strydenburg, gebore. Hy is met die perdekar Graaff-Reinet toe geneem om gedoop te word.
Ek vermoed sy pa moes ver suid gaan draai om Graaff-Reinet vanuit die suide te nader vanweë die berg- agtige terrein noord en wes van Graaff-Reinet.
Daar word vertel dat daardie eerste boere en hul gesinne vir tot ses jaar slegs vleis geëet het! Gedurende die Amerikaanse burgeroorlog is die voorsiening van katoen aan Brittanje, wat toe die “fabriek” van die wêreld was, afgesny. Dit het ’n wol-boom veroorsaak.