Ek dink reeds geruime tyd lank na oor Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, se aankondiging dat die gedrukte tydskrif van April af net tweeweekliks gaan verskyn.
Die rede hiervoor lê opgesluit in net een woordjie: tegnologie. Verandering en veral tegnologiese verandering was nog altyd deel van die menslike bestaan. Om mens te wees, is om te ontdek, te innoveer, te skep en om daardeur sy omgewing te verander.
Die mens het nog nooit by die natuur aangepas nie, maar het voortdurend uit dit wat beskikbaar is, die natuur verander om by sý behoeftes aan te pas. Daar was ’n tyd toe “wit goud” (sybokhaar) gesog was vir klere en ander bykomstighede.