Waarheen wil ons transformeer? Hoe het dit gebeur dat dit die norm geword het om maar net mislukking te bestuur, en dan te meen ons het gelukkig ’n tipe uitkoms wanneer daar ’n effense verbetering is teenoor van waar daar begin is?
Om elke braaivleisvuur is die staande bespreking hoe die ANC Suid-Afrika in alle opsigte in die steek laat. Maar steeds word sy beleidsrigtings, wat nog net armoede en hartseer veroorsaak het, gekoester. Mettertyd is ons al só gekondisioneer om amper slaafs dít wat hy verkondig, na te volg en selfs te help toepas.
Vele voorbeelde kan genoem word, maar die mees praktiese een vir die landbou is “transformasie”. Verskeie landbouleiers het reeds in die slagyster getrap deur selfs openlik te verklaar ons moet transformeer.