Dit het die afgelope paar jaar duidelik geword dat groei in die landbou- en landbouverwerkingsektor ’n plafon gaan bereik indien daar nie daadwerklik ’n plan gemaak word om bepaalde beperkings te oorkom nie. Navorsing van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) het dit immers bewys.
Derhalwe is daar oor die afgelope drie jaar, in oorleg met vennote, ’n meesterplan vir die landbou en landbouvoedselverwerking ontwikkel. Die visie van die meesterplan is ’n groeiende, billike, inklusiewe, mededingende, werkskeppende, laekoolstof- en volhoubare landbou- en landbouverwerkingsektor.
Dit word verder ondersteun deur die beginsel dat verandering noodsaaklik is om die dualisme in die sektor te oorkom deur groter inklusiwiteit en deelname deur swart boere en nuwe, swart kleinboere te bewerkstellig.