Jare gelede is ’n brief van my in Landbouweekblad gepubliseer waarin ek geskryf het dat enige boer wat meer water uit die grond pomp as wat hy nodig het vir sy vee se suipings, sy woonhuis en dié van sy werkers, van sy nageslag steel.
Dit was na aanleiding van die boere by Fraserburg (maar ook elders) wat langs die Visrivier geboer en water langs die rivier gepomp het nadat Eskomkrag daar aangelê is.
Groot lande is vir lusern besproei. Toe die watervlak sak, is die gate dieper en dieper geboor en uitgepomp tot die water opgedroog het. Besproeiing is toe laat vaar en miljoene rande is in die water gegooi. Plase sonder water beteken niks. Op ander plekke gaan dieselfde gebeur.