
Menslike faktore het net so ’n groot invloed op die impak van natuurrisiko’s soos klimaatsverandering.
Dít is volgens navorsing wat deur die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), die Wêreld-Natuurfonds, Santam en die Universiteit van Kaapstad in die distrik Eden in die Suid-Kaap gedoen is. Daar is spesifiek na die risiko’s van veldbrande, oorstromings en seestorms gekyk, sê dr. Deon Nel, hoof van die Wêreld-Natuurfonds.
Droogtes wat die gebied die afgelope paar jaar geteister het, was buite die bestek van die studie. Daar is wel bevind dat droogtes die aantal hoërisikodae vir veldbrande aansienlik vermeerder.
Impak op boerdery
Daar is ook nie na plase in die besonder gekyk nie, maar wel na bosbou. Nel het egter daarop gewys dat van hul bevindings wel ’n impak op boerdery het. Klimaatsverandering het die afgelope dekade tot ’n styging van 1,4 ?C in lentetemperature gelei.
’n Verdere styging van 1 ?C word teen 2040 verwag. Verhoogde temperature sal lei tot ’n groter gevaar van winterbrande. Daar word ook verwag dat die aantal tydperke van hoërisiko-veldbrande vanaf 2020 tot 2050 met 41% sal toeneem.
In hierdie tyd word ook ’n toename van 10% in die aantal dae waarin daar meer as 20 mm reënval sal voorkom, voorspel. Die neiging is egter sterker in die winter wanneer ’n styging van 36% in reenval voorspel word.
Die tweede bevinding was dat menslike faktore net so ’n groot en selfs groter impak het op ’n omgewing se vermoë om te herstel en om die impak van rampe te verminder, as wat klimaatsverandering het. Indringerplante, soos dennebome, het sommige gebiede se brandrisiko met tussen 31 % en 37% verhoog.
Meer intense vure
Die bome verhoog ook die biomassa in gebiede wat lei tot meer intense vure wat moeiliker blus. Nel sê die gom van dennebome veroorsaak ook ’n chemiese verandering in die grond wat ’n ongunstige impak op waterafloop kan hê.
Hy het boere aangeraai om so ver moontlik indringerbome uit te haal om brandrisiko’s te verminder. Hy het daarop gewys dat grond wat gebrand het, meer sensitief is vir oorstroming – waarvoor die risiko ook sal styg as reën met 10% toeneem, soos voorspel word.
Boere moet saamwerk om moeraslande in hul gebiede te beskerm aangesien moeraslande soos ’n spons werk en die impak van oorstromings aansienlik kan verminder. Die studie is deel van ’n poging van Santam om die impak van rampe op versekering te help verminder.
Mnr. John Melville, risikohoof by Santam, het op ’n mediakonferensie in Kaapstad gesê dat versekering teen natuurrampe baie duur geword het. In Suid-Afrika het skade weens oorstromings in sewe provinsies alleen R160 miljard beloop.
Kyk weer na risikovermindering
Die maatskappy het dus besluit om saam met regeringsinstansies en ander belanghebbendes te werk om ’n beter manier te kry om die situasie doeltreffender te hanteer. Hy het verwys na ’n internasionale neiging waar versekeraars deesdae vir hul kliënte aansporings bied om hul risiko’s te verminder. Santam wil dieselfde in Suid Afrika begin doen.
Melville het erken dat daar leemtes in versekering vir boere is en gesê dit kan ’n oplossing bied as die Regering versekering vir boere subsidieer. Eksperimente word tans op ’n proefplaas in Bloemfontein gedoen om maniere te vind waarop boere hul risiko’s kan verminder.
Hy het gesê daar is ’n groot vraag na nuwe inligting oor hoe om risiko’s op plase te verminder aangesien bestaande metodes nie met hedendaagse produksieneigings en die impak van klimaatsverandering op produksie tred gehou het nie.
25 November 2011