
Mnre. Carlos Bernardo Guambe (34) en Gabriel Bernardo Guambe (32) is Vrydag 22 Julie by die Belfast-landdroshof skuldig bevind en elk tot drie maande tronkstraf of ’n boete van R5 000 gevonnis. Die broers is reeds in aanhouding aangesien hulle besluit het om nie om borgtog aansoek te doen nie.
Die ander verdagtes in die mensehandel-saak, mnr. Cornelis Johannes Uys (60) en sy seun, Cornelis Johannes Albertus, was gister in die Belfast-landdroshof vir hul borgtogaansoek. Die saak is tot môre (27 Julie) uitgestel. Die Uyse bly in aanhouding tot dan.
Die Uyse is op 3 Julie op aanklagte van mensehandel in hegtenis geneem. Die verdagtes het volgens die staat Mosambiekse burgers per minibus na Suid-Afrika gebring met die belofte van beter werksgeleenthede. Die slagoffers is tot by die grens gebring waarna hulle deur ’n rivier beweeg het om toegang tot Suid-Afrika te verkry. Daarna is hulle met ’n minibus na Lydenburg geneem.
Albertus en een van die Guambes het na bewering dan die bestuurder van die minibus betaal om die slagoffers na die plaas te neem waar hulle dan gewerk het.
* Die saak is uitgestel tot 3 Augustus.