Die bekende veekundige dr. Andre Mentz het as lid van die SA Vereniging vir Veekunde (SAVV) en die SA Raad vir Natuurwetenskaplike Beroepe (Sarnap) bedank.
Dit volg slegs enkele weke nadat Mentz (outeur van die omstrede boek Beesboerdery en Veekunde - ’n Holistiese Benadering) ’n skikking bereik het met die Sarnap wat hom dissiplinêr oor sekere stellings in sy boek aangekla het.
Mentz sê ná dié gebeure en die “onprofessionele wyse” waarop hy behandel is, is dit vir hom onmoontlik om tot ’n organisasie te behoort waar “reg en geregtigheid” nie geskied nie.
Bewerings 'onwaar'
In sy bedankingsbrief skryf hy onder meer dat dit “onwaar is dat die tribunaal wat die saak verhoor het, bewys het dat hy die gedragskode van die twee verenigings verbreek het”. Hy maak ook beswaar dat die Sarnap hom na bewering wil “inperk” om met die media oor die saak te praat.
Mentz het aan Landbouweekblad gesê dat hy nog baie het om in belang van die veebedryf te openbaar en verdere studies rakende die welslae van boere wat ’n holistiese bestuursbenadering volg, gaan doen.
“Ek wil dit kombineer met nagraadse studies aan die Universiteit van die Vrystaat se sentrum vir volhoubare landbou,” het hy gesê.
16 November 2011