
Mnr. Andries (Tot) Pienaar (71), wat vir sy optimistiese ingesteldheid en sy Mega-Merinostoetery bekend was, het die afgelope tyd gesondheidsprobleme met onder meer hoë bloeddruk ondervind en het gesukkel om te loop.
Sy vrou van die afgelope 49 jaar, Nora, sê hy het Sondag op pad terug van hul kerk op Petrusville begin sleg voel en sou die volgende dag mediese behandeling kry. Hy is egter tuis oorlede.
Hy het nieteenstaande sy gesondheidsprobleme steeds voluit geboer en het volgens haar sy ooie weekliks besoek.
Hy en sy regterhand van die afgelope 27 jaar, mnr. John May (links op die foto), sou vanjaar Bloemskou vir die Saalperde en Merino’s, asook die Nampo-oesdag bygewoon het. Hy was ook onder meer die afgelope 25 jaar by skaapteelt in Lesotho betrokke en het die jaarlikse skou in Maseru help reël. Pienaar het in 1985 die Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar toekenning ontvang.
Hy word deur sy vrou en die egpaar se vier kinders oorleef. Hul seun, Jacques, is heeltyds by die boerdery betrokke, terwyl hul dogters, mee. Liezel van Niekerk, Nina Greeff en Carmen Bender, en hul gesinne onderskeidelik op Burgersdorp, Robertson en Bloubergstrand woon.
Die teraardebestelling vind Saterdag om 08:00 op Klipplaatsfontein plaas, gevolg deur ’n gedenkdiens om 11:00 in die NG kerk op Colesberg.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.