
Net 20% van die geld vir droogtevoer in 2014 in Noordwes het boere bereik, en die toeslagprys “mark-up” om 'n boorgat vir die staat te boor en toe te rus, is 95% meer as die prys wat 'n private kontrakteur sou kwoteer.
Hierdie is van die syfers van vermorsing wat in die genoem is.
In ’n verslag op die droogteberaad het dr. Ikalefeng Kgakatsi, direkteur klimaatsverandering en rampbestuur by die Departement van Landbou, gesê sowat 246 425 boere word nadelig deur die droogte geraak en sowat 253 000 stuks vee het reeds weens die droogte gevrek.
Produksie het afgeneem
Weens die droogte het die produksie van saaigewasse met 23% afgeneem, sowat 9% by vleisproduksie en 1% in tuinbou-produksie. Die grootste werksverliese was ook sover by saaiboerdery (11%), veeboerdery (9%) en die suikerboerdery (9%).
Van die staat se droogtehulp het ingesluit die verspreiding van 512 000 sakke voer, 97 000 bale voer en 117 boorgate.
Oor boorgate het mnr. Ken Terry, hoof van die nasionale rampbestuursentrum, gewaarsku dat die droogte soms vir persoonlike gewin uitgebuit word. “Wanneer ’n boorgat in opdrag van die staat gesink en toegerus word, kos dit soms tussen R1,5 miljoen en R3 miljoen, terwyl ’n soortgelyke boorgat R85 000 kos as dit in opdrag van iemand in die private sektor geboor word. Die oomblik as ’n staatstender betrokke is, word die prys opgejaag."
Net R8 miljoen van R40 miljoen se voer bereik boere
“Toe daar in 2014 altesaam R40 miljoen se voer in Noordwes versprei is, het net R8 miljoen se voer die boere bereik en die res het vir die middelman se sak gegaan.”
Hy sê daar is ook beweringe dat infrastruktuur vir die lewering van water soms doelbewus beskadig word net om kontrakte te behou om water aan te ry na mense in nood. Ander kwellinge is vermorsing, agteruitgang van water-infrastruktuur en waterlekke wat nie reggemaak word nie.