
Die verwagte kommersiële oes is met 2,3% teenoor die vorige skatting verhoog tot 10,9 miljoen ton.
Dit is 244 900 ton meer as wat die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) ’n maand gelede verwag het. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,3 miljoen ha en die verwagte opbrengs is 4,74 ton/ha. Die geskatte oes is steeds 13% kleiner as verlede jaar se oes.
Die NOK verwag dat die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga, 80% van die 2019-oes gaan produseer.
Mnr. Antony Clark, markontleder, sê die skatting is veral goeie nuus vir die pluimveebedryf, meulenaars en veevoervervaardigers. Hy waarsku terselftertyd dat vroeë ryp nog skade kan aanrig. “As ’n mens dink hoe ons die jaar begin het, is die skatting egter in alle opsigte baie goeie nuus.”
Hy sê die skatting vir veral witmielies is goeie nuus. Die verwagte oes is met 201 500 ton (3,81%) verhoog tot 5,488 miljoen ton teenoor die vorige skatting. Die verwagte opbrengs is 4,23 ton/ha.
In die geval van geelmielies is die produksieskatting 5,412 miljoen ton, wat 43 400 ton (0,81%) meer is as die vorige skatting. Die verwagte opbrengs is 5,4 ton/ha. Die oppervlakte onder witmielies is 1,298 miljoen ha, en die oppervlakte onder geelmielies is 1,002 miljoen ha.
Die NOK wys daarop dat die opbrengsbepaling per hektaar vir die Vrystaat en Noordwes gegrond is op wetenskaplike en objektiewe resultate van die Landbounavorsingsraad.
Ander gewasse
Alle ander somergewasse se produksieskattings is onveranderd gelaat teenoor die vorige skatting. In die geval van sonneblomsaad is die skatting 611 140 ton op 515 350 ha, met ’n verwagte opbrengs van 1,19 ton/ha.
Vir sojabone is die verwagte oes 1,296 miljoen ton op 730 500 ha, met ’n opbrengs van 1,77 ton/ha. Die verwagte grondboonoes is 22 705 ton op 20 050 ha, met ’n opbrengs van 1,13 ton/ha. Ook vir sorghum is die oes onveranderd gelaat op 165 850 ton met ’n oppervlakteskatting van 50 500 ha en ’n verwagte opbrengs van 3,28 ton/ha. Vir droëbone is die skatting 72 450 ton op 59 300 ha en ’n opbrengs van 1,22 ton/ha.
Wat die internasionale mieliemark betref, gons dit oor die lae aanplantings in Amerika weens die nat toestande in dié land. Die Amerikaanse departement van landbou het verlede week gesê die aanplantings is tans 58%, terwyl meer as 90% van die aanplatings gewoonlik dié tyd van die seisoen gedoen is.
Volgens mnr. Luan van der Walt, ekonoom by Graan SA, was die verwagting dat die aanplantings op 68% sou staan.
Amerika en China is die wêreld se grootste mielieprodusente. Die twee lande produseer saam meer as die helfte van die wêreldvoorraad van sowat 1,1 miljard ton.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.