
Die prystendense van die Safex-witmielieprys en die kleinhandelsprys van mieliemeel is in ’n vorige artikel “Prys van mieliemeel styg 43% in ’n jaar” bespreek. Volgens dié artikel het die prys van wit mielies en die supermarkprys van mieliemeel vanaf Julie 2015 tot Julie 2016 met 43% gestyg.
Pryse
In hierdie opvolgartikel word gekyk na wat in die daaropvolgende maande (Augustus tot November) gebeur het, soos wat in die grafiek hieronder gesien kan word. Data gebruik is afkomstig van Statistiek SA en Sagis.
Die maandelikse Safex-spotprys vir wit mielies word deur die groen lyn voorgestel. Die rooi area is die gemiddelde maandelikse kleinhandelsprys van super- en spesiale mieliemeel. Vanaf Julie tot November 2015 was die maandelikse styging (in vergelyking met die basismaand) van mieliemeel effens meer as die witmielieprys, wat redelik konstant gebly het.
Hierdie prentjie het vanaf Desember 2015 drasties verander toe die voorspelde droogte werklikheid geword het en wit mielies op Safex byna daagliks limiete opbeweeg het. Kleinhandelspryse vir mieliemeel het ook teen ’n vinniger, maar meer geleidelike tempo gestyg.
Teen Julie 2016 het mieliemeel die witmielieprys ingehaal en het albei met 43% in vergelyking met Julie 2015 gestyg. Hierna het die situasie omgekeer en was die maandelikse styging heelwat meer vir mieliemeel as vir wit mielies. In November 2016 was die styging vir wit mielies 17% teenoor 47% vir mieliemeel, met Julie 2015 as beginpunt.
Hoewel bogenoemde voorstelling die werklikheid dalk oorvereenvoudig (daar verloop heelwat tyd vandat mielies aangekoop word totdat dit as meel op die winkelrak beland), het dit nou tyd geword dat rolspelers verder af in die mieliemeelketting ook pryse afwaarts moet begin aanpas.
Verbruik
Die verbruik van wit mielies deur mense word in die grafiek hieronder deur die blou lyn voorgestel. Daar was heelwat bekommernis dat verbruik baie sal daal as gevolg van die vinnige prysstygings. Hierdie vrese is gelukkig nie bewaarheid nie.
Dit is duidelik dat prysverhogings nie die mense van Suid-Afrika se lus vir pap demp nie. Hoewel die maandelikse verbruik van wit mielies deurgaans effens laer as die Julie 2015-verbruik was, was die November 2016 verbruik weer byna dieselfde.
Dit is dalk nog te gou om te sê, maar dit lyk tog asof die reuse prysstygings aan die begin van 2016 nie permanente skade aan mieliemeelverbruik gedoen het nie.
*Johann Strauss is ’n navorser by BVG Commodities.