
Die wisselkoers was dié afgelope week die vernaamste rede vir die afwaartse beweging van pryse.
Wisselkoers:Die wisselkoers het die afgelope week met 49 sent versterk. Die versterking was sekerlik die faktor wat die meeste afwaartse druk op pryse geplaas het. Min ekonome sou 'n jaar terug só 'n relatief sterk wisselkoers verwag het. Die meerderheid het 'n R/$-vlak wat veel swakker is, voorspel.
Verhandeling vir die volgende week behoort sywaarts tot swakker te wees.
VSA mielieprys:
Dit was 'n stil week wat prysbewegings betref. Die vernaamste dag-tot-dag-veranderings was as gevolg van eksterne faktore, soos oliepryse. Die olieprys is besig om te daal (teen onlangse verwagtings). Dit is die vernaamste rede vir die week se daling in mieliepryse.
Weervoorspellings behoort vir die volgende maande die belangrikste faktor te word wat prysbewegings betref.
Wit en geel mielies:
Die daling is pryse was hoofsaaklik as gevolg van die wisselkoers-versterking. Daar was min fundamentele nuus met die tweede oesskatting wat volgende week op 28 Maart bekend gemaak sal word. Die Julie 2017 witmielie-kontrak het op 22 Maart tot 'n intradag-laagtepunt van R1 800 per ton gedaal, waarna dit herstel en op R1 810 gesluit het. Dit lyk asof R1 800 'n sterk weerstandsvlak bly.
Hieronder is 'n grafiek van Julie 2017 mielies se beweging vir die afgelope week.
* Geskryf deur Johann Strauss, navorser by BVG Commodities