
Mieliepryse het die afgelope week gestyg as gevolg van die wisselkoers-verswakking.
Wisselkoers:
Ná ‘n vinnige versterking tot minder as R13 vir ‘n Amerikaanse dollar het die rand weer begin verswak tot die huidige R13,27. Dit is hoofsaaklik as gevolg van slegte finansiële nuu,s soos werkverliese by myne en Pioneer Foods se transaksie wat misluk het. Dit is alles die direkte gevolg van Suid-Afrika se swakker kredietgradering. Ontleders verwag dat buitelanders volgende week weer staatseffekte sal begin aankoop, wat die verswakking behoort om te keer.
Verhandeling vir die volgende week behoort gunstig vir ‘n sterker rand te wees.
Amerikaanse mielieprys:Die VSA-mielieprys vir Julie 2017 soos wat dit op die CME-beurs verhandel het met 4 Amerikaanse sent per skepel gestyg. Die styging is die gevolg van reën wat voorspel is in gebiede waar nou mielies geplant moet word. Daar kan nie nou veel in enige styging of daling gelees word nie, aangesien dit uiters korttermyn van aard is en gedurig verander. Verhandeling vir die komende week behoort sywaarts te wees.
Wit en geel mielies:Julie 2017 JSE wit mielies het vir die week onder bespreking met R73 per ton gestyg, geel mielies vir dieselfde maand het met R70 per ton gestyg. Mieliepryse volg hoofsaaklik die wisselkoers. Die geringe styging in Amerikaanse mieliepryse het ook saamgeval met ‘n wisselkoersverswakking. Selfs die derde oesskatting se nuus dat die mielie-oes steeds al hoe groter word, kon nie nuus van die swakker wisselkoers demp nie.
'n Grafiek van Julie 2017-mielies se beweging vir die afgelope week kan hieronder gesien word.
* Geskryf deur Johann Strauss, navorser by BVG Commodities