Sowat 100 000 ton van Suid-Afrika se surplus mielies kan moontlik aan Saoedi-Arabië en Indië verkoop word.
Luidens ‘n berig op Business Day (25 Januarie) verwag mnr. Langa Zita, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, dat ‘n ooreenkoms teen die einde van Februarie afgehandel sal wees.
Mielieprodusente en Suid-Afrika se mark ervaar sedert verlede jaar erge prysdruk nadat 2010 se mielie-oes ‘n oorskot van 4 miljoen ton gelewer het. Volgens die berig het dié surplus mieliepryse met sowat 21% verlaag, en is die Regering bekommerd dat boere weens dié rede produksie van die stapelvoedselproduk kan verlaag.
Politiek pootjie verkope?
Volgens Zita word die verkope van die graan, wat sedert verlede maand in die pyplyn is, deur “politiek” in die graanbedryf gepootjie.
"Ons het na die relevante leierskap in die graanbedryf gegaan en hulle kon ons nie in kontak plaas met die mense wat vir ons die mielies moes gee om te verkoop nie,” aldus Zita.
Hy sê hoewel China alreeds genader is om ‘n deel van die surplus te koop, het hulle nog geen terugvoer gehad nie.
Geen kennis
Intussen sê mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, dié jongste verwikkelinge is nog nie aan hulle gekommunikeer nie. Hy sê hulle sal binnekort met Zita in kontak tree om te hoor waar dié nuwe markte is.
Dr. Kobus Laubscher, uitvoerende hoof van Graan SA, sê hoewel hulle al vir maande lank weet dat Saoedi-Arabië en Indië moontlikhede kan wees, het hy via die media van dié jongste verwikkelinge te hore gekom.
“Ons het reeds verlede jaar met die Regering oor nuwe markte begin praat en ons is in deurlopende gesprek daaroor. Ons is baie dankbaar vir enige nuwe markte wat ontgin kan word. Graan SA en die Regering kan egter wel net ‘n fasiliteringsrol vervul, aangesien die aankoop en verkoop tussen landboumaatskappye moet geskied.”
Lees ook:
China koop dalk oorskot mielies
En uit Landbouweekblad:
25 Januarie 2011