
Agterstallige ondersoeke wat uitkomste moet bepaal vir aansoeke om invoertariewe op verskeie produkte te verander, veroorsaak dat R3 miljard “iewers” opgesluit lê en dus verlore is vir Suid-Afrika.
“Dit duur te lank om ondersoeke oor invoertariewe af te handel,” het Donald MacKay, uitvoerende hoof van XA Global Trade Advisors, onlangs gewaarsku. Hy het die afgelope week XA Global se tweede ondersoekende verslag oor invoertariewe bespreek.
Luidens die verslag was daar 39 onvoltooide ondersoeke op 31 Desember 2022 waarvan 90%, of 35, agterstallig was.
Die departement van handel, nywerheid en mededinging en die internasionale handelsadministrasie (Itac) se eie riglyne dui daarop dat ’n aansoekproses vandat die ondersoek deur Itac begin word tot die finalisering daarvan deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) nie langer nie as ses maande behoort te duur nie. Volgens die XA-verslag duur dit egter gemiddeld 22 maande, maar daar is selfs sake met ’n agterstand van 47 maande. “Dít is beduidend aangesien die handelsomgewing heelwat kan verander oor só ’n uitgerekte tydperk.”
Verlore ekonomiese inspuiting
Die uitstaande aansoeke vir verligting op tariewe vir goedere wat nie plaaslik beskikbaar is nie, kan R1,4 miljard in die ekonomie terugploeg indien dit toegestaan word. “Buiten hiervoor kan die regering nóg R1,6 miljard uit tariewe insamel indien versoeke vir tariefverhogings toegestaan word, terwyl invoervolumes oor die algemeen onveranderd bly.”
Só raak gesloer ondernemings
Volgens hom ly voedselprodukte die swaarste onder hierdie onnodige lang tyd wat dit duur om besluite oor aansoeke te neem.
Nature’s Garden se aansoek is een voorbeeld van die gevolge van die gesloer. Die maatskappy het sy aansoek vir ’n tariefverhoging op gemengde bevrore groente op 14 Junie 2018 ingedien en die ondersoek is op 22 Februarie 2019 begin, maar is steeds nie afgehandel nie. “Gedurende dié tydperk het die handelsomgewing en wêreldwye ekonomie aansienlik verander. Handelsbesluite moet op die hede en nie verlede gegrond word nie. Wat dus in 2019 gegeld het, is in 2023 baie verskillend.”
Nog ’n voorbeeld van die gesloerdery het mense hul werk gekos. Matador is ’n slaghuis in Somerset-Oos in die Oos-Kaap. Die slaghuis het in 2010 werk aan 90 mense gegee. Die onderneming het ’n mark ontdek vir ontbeende hoenderboudkwarte wat op stokkies verkoop word.
Geen plaaslike produsent kon egter ontbeende hoenderboudkwarte aan hom verskaf nie. “Ons weet dis die geval want Matador het 70 plaaslike vervaardigers hieroor gekontak en nie een was bereid om dit aan hom te verskaf nie,” volgens MacKay.
Matador kon hierdie stukke voor Maart 2020 invoer teen die invoertarief van 12%, maar in Maart 2020 is dié tarief tot 42% verhoog. Matador het daarom in Julie 2020 sy aansoek vir verligting van die tarief ingedien, spesifiek vir ontbeende hoenderboudkwarte. Die ondersoek moes dus na verwagting teen Januarie 2021 afgehandel wees. Dis nou Maart 2023 en daar is nog geen teken van ’n besluit nie. Intussen het die getal werknemers by Matador gedaal tot 25 tot 30 werknemers wat slegs twee dae per week werk.
Wat moet verander?
XA Global het reeds verskeie voorstelle gemaak om van hierdie kwessies aan te pak.
Daar is byvoorbeeld geen wetlike vereiste wat bepaal ondersoeke oor tariewe moet enigsins voltooi word nie, al is Itac se voorstel dat dit binne ses maande afgehandel word.
“Dit moet verander en verpligte tydsbeperkings moet deur wetgewing ingestel word. Die spertyd om aansoeke af te handel moet in regulasies ingewerk word juis om die proses voorspelbaar te maak. Daar moet ’n maksimum tydperk van 12 maande ingestel word vir die hele proses vanaf die aansoek ingedien is, die ondersoek plaasvind en die besluit deur die ministers van finansies én van handel, nywerheid en mededinging geneem is.”
MacKay-hulle stel verder voor ’n ondersoek moet stopgesit word as hierdie 12-maande-tydperk oorskry word.