Kuba sal R40 miljoen se saad van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye kry om sy landbou te help ontwikkel.
Dit het gebeur nadat die Regering ’n ooreenkoms met dié land aangegaan het om hom ekonomiese ondersteuning te bied. Volgens die ooreenkoms moet goedere en die dienste wat daarmee gepaard gaan, van Suid-Afrika bekom word.
Mnr. Jimmy Manyi, Kabinetswoordvoerder, het gesê dat hierdie ooreenkoms die eerste in sy soort is wat die land al met enige van sy vennote geteken het. Dit sal handel tussen die twee lande verbeter en Kuba steun met die ontwikkeling van sy landbou.
R350 miljoen
Mnr. Selby Bokaba, woordvoerder van die departement, het gesê R5 miljoen van die R40 miljoen sal gebruik word om saad net in Suid-Afrika te koop. Die res (R35 miljoen) sal gebruik word om saad elders ter wêreld, maar wat ook Suid-Afrika insluit, te bekom.
Die totale pakket wat Kuba van Suid-Afrika sal ontvang, is R350 miljoen. Mnr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, het aangedui dat die toelaag vir saad daarop gemik is om Kuba se program te steun wat poog om voedselsekerheid te bereik.
Die land kry ook ’n solidariteitstoelaag van R100 miljoen wat nie aan Suid-Afrika terugbetaal mag word nie. Verder moet R210 miljoen se kredietgerief terugbetaal word.
Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie sal die pakket namens die Departement van Handel en Nywerheid behartig en sal ook alle uitvoerders namens Kuba betaal sodat geen geld Suid-Afrika verlaat nie, maar in ’n plaaslike rekening bly.
4 April 2012