Brandskade in die Vrystaat beloop honderde miljoene rand met 254 000 ha wat reeds in die slag gebly het, sê die provinsiale departement van landbou, bosbou en visserye.
Mnr. Malcolm Procter, adjunkdirekteur van bos- en veldbrandtoesig by die departement, sê hulle is uiters bekommerd oor die feit dat hulle vinnig nader beweeg aan verlede jaar se syfers vir brande in September.
Volgens verlede jaar se statistiek het sowat 202 266 ha in September afgebrand, terwyl Oktober se syfer op 127 265 ha te staan gekom het.
“Tot op hede (9 September 2011) het 127 265 ha reeds in die eerste agt dae van September vanjaar afgebrand,” aldus Procter.
Honderde miljoene rand
Wat die honderde miljoene rand se skade betref, sê Procter hy bereken die skade op sowat R800 per ha.
“Dit is bereken vir die waarde van die grond en die weiding wat op dié grond sou staan. Boere laat sekere kampe vir twee jaar tot drie jaar staan om te herstel, ’n mens moet dus daardie waarde ook in ag neem.”
’n Vinnige berekening volgens dié waardes bring die skade op honderde miljoene rand te staan, wat volgens Procter die erns van die situasie uitwys.
“Ons is vinnig besig om Noordwes se syfers vir die jaar in te haal en warmer as gewone toestande word vir die res van die maand verwag, wat niks goeds voorspel nie,” vertel Procter.
Regsaksie
Procter meen dat verskeie munisipaliteite in die provinsie regstappe teen hulle kan verwag, omdat sowat 25% van die brande wat tot dusver voorgekom het op munisipale gronde of by asgate ontstaan het. ’n Brand in die distrik Vredefort, wat sowat 22 000 ha vernietig het, het by die munisipale asgate ontstaan.
Volgens Procter moet die Regering ook sy verantwoordelikheid begin besef en pa staan vir sy foute.
Brande wat weens padongelukke ontstaan, het reeds 102 324 ha vernietig, en Procter sê dit is ook ’n groot bron van kommer.
9 September 2011