
Die koste van ’n nuwe 6 m-vraghouer het in Amerikaanse dollarwaarde van die begin van 2020 tot Junie vanjaar met meer as 75% gestyg. Dié styging het daartoe gelei dat die huurkoste van uitvoervraghouers ook gestyg het, sê mnr. Kashief Schroeder, uitvoerende hoof van Container Intermodal Trading, ’n vraghouerhandelaar en verhuurder van Kaapstad.
“Die skeepsvraghouerbedryf het in die afgelope twee jaar ’n gedaanteverwisseling ondergaan, en dit is die eindverbruiker wat uiteindelik die prys betaal. Aan die een kant was dit lankal nodig dat die vervaardigers van vraghouers hul pryse opstoot. Die ontwrigting weens die covid-19-pandemie het hierdie geleentheid geskep. Namate die prys van nuwe vraghouers verhoog is, het die waarde van tweedehandse vraghouers en gevolglik die verhuringsprys daarvan egter ook toegeneem.
“Baie van hierdie rederye het in die afgelope twee jaar vir die eerste keer in dekades ’n gesonde wins gemaak. Ons sien toenemend hoe skeepsrederye die geleentheid aangryp om voordeel te trek uit die noodsaaklikheid van voortgesette sake en die funksionering van plaaslike verbruikers en besighede.
“Die hoër verskepingstariewe is uiteraard voordelig vir skeepsrederye en vraghouervervaardigers, en hulle beskik oor die mag om hierdie tariewe weer te verhoog, selfs al normaliseer die vervaardigingskoste teen 2022, soos wat voorspel word.”
Die vooruitsigte vir laer vraghouerkoste lyk dus nie goed nie. Schroeder meen die enigste ligpunt is dat dié situasie voordelig vir plaaslike vervaardiging kan wees. Meer hulpbronne behoort in plaaslike vervaardiging gestort te word, want daar behoort meer geleenthede vir plaaslik vervaardigde produkte te ontstaan namate invoer duurder raak.