
Dít is een van die bevindinge van ’n opname waaraan 577 van Agri SA se lede deelgeneem het. Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, het die bevindinge vandag op ’n aanlyn mediakonferensie bespreek.
Van die 577 deelnemers meen 549 dat die verhoging van die nasionale minimum loon beteken dat hulle hul begroting vir lone in 2021 sal oorskry. Verlede jaar is meer as R1,7 miljard per jaar vir lone begroot en daar word verwag dat arbeidskoste teenoor omset vanjaar met 24% kan toeneem.
Verder het 456 van die deelnemers aangedui dat daar tussen hulle altesaam 4 384 werksgeleenthede – 9,6 per deelnemer – weens die verhoogde minimum loon verlore kan gaan.
“Subsektore wat steeds arbeidintensief is, sal meganisasie oorweeg om arbeidskoste te bespaar en die werksure verkort van die werkers wat wel behoue bly,” het Van der Rheede gesê. “Sommige deelnemers aan die opname het die indruk gewek dat hulle hul personeel vir drie maande sal verminder en werkskepping-inisiatiewe sal opskort.”
Hy het gesê die opname het ook insigte verskaf oor die vlakke van armoede, uitsigloosheid en maatskaplike verval wat in landelike gebiede ondervind word. Deelnemers het aangedui dat meer mense by plase kom aanklop vir werk weens werksverliese in veral die toerisme- en wildbedryf.
Volgens die opname is die grootste oorsake van finansiële druk op boere tans kragtariewe, wat met ’n beoogde 15% sal styg, die nasionale minimum loon, wat met 16% sal styg, hoër brandstofpryse en hoër watertariewe.
Van der Rheede het gesê daar moet eerder gekonsentreer word op werkskepping en die daarstelling van beleide wat ekonomiese groei sal bevorder, om uiteindelik die lewe van alle Suid-Afrikaners, veral diegene wat deur armoede en ongelykheid geraak word, te verbeter. “ ’n Minimum loon sal nie doeltreffend wees in die afwesigheid van ’n holistiese benadering wat daarop gemik is om die lewe van veral die kwesbaarste huishoudings in ons samelewing te verbeter nie.
“Daar is ook ’n behoefte aan landelike ontwikkeling om die lewensbestaan van plaaswerkers te verbeter aangesien dit vir ten minste beperkte verandering gesorg het. Sulke ontwikkeling sal seisoenale werkers in staat stel om baat te vind by meer diverse werksgeleenthede en beter, meer volhoubare inkomste.”