
“Ons doen ’n beroep op die regering om die styging van die minimum loon te beperk tot ’n inflasie-verwante vlak. ’n Styging hoër as inflasie is nie volhoubaar vir die sukkelende landbousektor nie,” sê Agri SA in ’n mediaverklaring.
Die minimum loon is R23,19 per uur nadat dit in Maart vanjaar vanaf R21,69 verhoog is – ’n styging van amper 7%. ’n Moontlike styging sal na verwagting weer in Maart 2023 aangekondig word.
Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) was die inflasiekoers in September 7,5%.
Agri SA stel ’n verhoging gelykstaande aan die verbruikerprysinflasie (VPI) minus 2% voor. “Dít verteenwoordig ’n beduidende verhoging, maar neem ook die uiters moeilike ekonomiese konteks waarin die sektor homself bevind in ag.”
Agri SA sê daar is begrip vir ’n moontlike verhoging van die minimum loon gegewe die druk op Suid-Afrikaanse verbruikers.
“Die landbousektor het die afgelope jare groot terugslae beleef wat die lewensvatbaarheid van heelwat plase bedreig. ’n Verhoging moet die volhoubaarheid van boerderybedrywighede en voedselsekerheid ook in ag neem.”
Werkskepping in gedrang
Volgens die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) het die gemiddelde jaarlikse inflasie van plaasarbeid sedert 2012 met 11,6% gestyg. Die VPI vir die ooreenstemmende tydperk was maar 5%.
Die landbousektor gee werk aan 874 000 mense en die indiensneming het reeds verby die vlakke van voor covid-19 gegroei.
“Die uiters belangrike rol wat die landbou in die skepping van werksgeleenthede in Suid-Afrika speel, is dus bekend. Die sektor se kapasiteit hiervoor kan egter onder druk kom as die verhoging van die nasionale minimum loon styg sonder dat ekonomiese werklikhede in ag geneem word.”
Mededinging só bedreig
Agri SA waarsku op lang termyn kan vinnig stygende arbeidskoste wat nie gepaard gaan met ’n verhoging in produktiwiteit nie, Suid-Afrika se internasionale mededingendheid bedreig.
“Suid-Afrika se vermoë om internasionaal mee te ding en sy uitvoermarkaandeel te vergroot sodat die landbousektor se bydrae tot die BBP verhoog, gaan grootliks afhang van hoe goed ons ’n balans kan hou tussen lone, produktiwiteit en die vermoë om genoeg gesonde voedsel vir die plaaslike mark, teen bekostigbare pryse, te produseer.
“Talle plaaslike sektore word klaar bedreig deur die storting van goedkoop ingevoerde produkte. Terselfdertyd kom uitvoerders te staan teen toenemende internasionale mededinging van meer produktiewe lande met goedkoper arbeid. Chili en Peru, twee opkomende Suid-Amerikaanse vrugteproduserende lande, is van dié mededingers.”
Druk van oraloor
Die neiging om verhogings van hoër as inflasie in te stel, hou volgens Agri SA kort- en langtermyngevolge vir die sektor se toekomstige ekonomiese bydrae tot die Suid-Afrikaanse bruto binnelandse produk (BBP) in.
“Die sektor kon tot onlangs hierdie loonstygings absorbeer, hoofsaaklik danksy die goeie tye wat arbeidsintensiewe tuinboubedrywe in die jare voor covid-19 geniet het. Hierdie bedrywe ervaar egter aansienlike druk.
“Boere in sekere dele van Suid-Afrika herstel nog finansieel van die stortreën vroeër vanjaar en word deur potensieel ongekende sprinkaan-uitbrekings in die gesig gestaar. Onder hierdie omstandighede kan boere nie ook ’n verhoging in die nasionale minimum loon van hoër as inflasie bekostig nie.
“Daar is ook druk weens stygende insetkoste, soos dié van brandstof en kunsmis. Noodsaaklike dienslewering van onder meer logistiek en elektrisiteit is nie altyd op peil nie en veroorsaak in sommige gevalle bykomende finansiële las op boere.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.