
Dít is volgens die Pietermaritzburg-groep vir geregtigheid en waardigheid.
Die groep skryf in sy Januarie-indeks vir huishoudelike bekostigbaarheid die verwagte 18,65%-verhoging in kragtariewe wat deur Nersa, die nasionale energiereguleerder, goedgekeur is, hou enorme risiko’s in vir werkers se lone.
Die groep stel daarom voor loonverhogings wat voor Nersa se aankondiging voorgestel is, insluitend die nasionale minimum loon, moet nou opwaarts aangepas word om die hoër kragpryse in ag te neem.
Volgens die groep se inligting neem elektristeitskoste ’n baie groot hap uit werkers in lae-inkomstegroepe se maandelikse inkomste. “Dit beteken hierdie werkers het aansienlik minder geld om te bestee aan ander noodsaaklike uitgawes.”
Die verwagte styging in die minimum loon van ongeveer 8% skuif die uurlikse loon van R23,19 op na R25,05 per uur. Oor 21 dae teen 8 uur per dag sal die maandelikse loon verhoog van R3 895,92 tot R4 208,40 – ’n styging van R312,48.
Die groep se data toon krag neem 20,2% van die nasionale minimum loon in beslag en as die 18,65%-tariefverhoging wel ingestel word, kan elektrisiteitskoste tot 22,2% van die minimum loon opeet.
“Eskom se prysverhogings is ver bo inflasie en is al geruime tyd hoër as die bekostigbaarheiddrempels van lae-inkomstehuishoudings.”
Die groep wil daarom hê die regering moet sy voorstel vir die verhoging van 8% aan die minimum loon nóg meer maak. “Eskom se 18,65%-tariefverhoging gaan amper die helfte van die regering se voorgestelde 8%-verhoging vir 2023 uitwis.”
Die groep gebruik Pietermaritzburg se kragtarief om ’n volgehoue basislyn vir sy ontleding van pryse te doen.
Intussen het Eskom Vrydagmiddag afgekondig dat die vlak van beurtkrag teen 05h00 Saterdagoggend na vlak 3 verminder sal word, maar dat vlak 4 beurtkrag die res van Vrydag, asook Saterdag- en Sondagaand van 16h00-05h00 sal geld. Tussen 05h00 en 16h00 Sondag sal beurtkrag na verwagting na vlak 2 verlaag word.
Impak op landbou
Agri SA het egter verlede jaar ’n beroep op die regering gedoen om die styging van die minimum loon te beperk tot ’n inflasie-verwante vlak. “ ’n Styging hoër as inflasie is nie volhoubaar vir die sukkelende landbousektor nie,” het Agri SA in ’n mediaverklaring geskryf.
Agri SA stel ’n verhoging gelykstaande aan die verbruikerprysinflasie (VPI) minus 2% voor. “Dít verteenwoordig ’n beduidende verhoging, maar neem ook die uiters moeilike ekonomiese konteks waarin die sektor homself bevind in ag.”
Agri SA het gesê daar is begrip vir ’n moontlike verhoging van die minimum loon gegewe die druk op Suid-Afrikaanse verbruikers.
“Die landbousektor het die afgelope jare groot terugslae beleef wat die lewensvatbaarheid van heelwat plase bedreig. ’n Verhoging moet die volhoubaarheid van boerderybedrywighede en voedselsekerheid ook in ag neem.”
Arbeidsintensiewe sektore, soos die wyn- en vrugtebedryf, het onlangs gesê die voorgestelde verhoging in die nasionale minimum loon sal boere verby die punt dryf waar hulle winsgewendheid kan handhaaf.
Mnr. Rico Basson, uitvoerende direkteur van Vinpro, het onder andere gewaarsku die voorgestelde verhoging sal die mees direkte impak hê op primêre produsente, veral dié wat betrokke is by arbeidsintensiewe kommoditeite soos wingerdbou, waar die salarisrekening ’n aansienlike deel van boere se insetkoste uitmaak.
Die algehele inflasiekoers in Suid-Afrika het die afgelope ses maande ’n beskeie afname getoon, maar voedselprysinflasie bly taai, luidens die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP), se onlangse verslag oor die dinamika van voedselprysinflasie in Desember. “Dit is die gevolg van aanbodskokke in verskeie landboukommoditeit- en veemarkte reg oor die wêreld. Hierdie skokke het op hul beurt deurgesyfer na die plaaslike mark.”
Finansiële resultate van verskeie voedselmaatskappye dui volgens BFAP daarop dat brandstofuitgawes om kragopwekkers te bedryf tydens beurtkrag die hoogte inskiet.
Hierdie koste kan nie in die ketting geabsorbeer word nie. Dit word tot ’n groot mate aan verbruikers deurgegee. Trouens, beurtkrag kan ’n sleutelfaktor wees wat Suid-Afrika kan verhinder om die wêreldneigings van dalende voedselprysinflasie gedurende 2023 te volg.
Rentekoers styg ook
Die Reserwebank het Donderdag aangekondig die rentekoers styg met 25 basispunte. Die prima rentekoers van banke verhoog derhalwe tot 10,75% en die repokoers tot 7,25%.
Volgens mnr. Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het die impak van beurtkrag op Suid-Afrika se ekonomie daartoe bygedra dat slegs 0,3%-groei in die bruto binnelandse produk (BBP) in 2023 verwag word. Gegewe die skaal van beurtkrag verwag die Reserwebank dat groei met tot 2 persentasiepunte in 2023 kan daal.
Hy het gesê al is die vooruitsigte van ekonomiese groei steeds wisselvallig, is die geleenthede vir groei nou selfs meer onbekend. ’n Beduidende daling in beurtkrag kan groei aansienlik verhoog.
Die Reserwebank verwag inflasie sal vanjaar gemiddeld 5,4% bly.
Uitvoer krimp
Volgens die bank se verklaring gaan kommoditeitspryse van Suid-Afrika se uitvoermandjie aanhou daal met ongeveer 18% in 2023. Dit sal na verwagting eers in 2025 begin stabiliseer.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.