
Dit is eerder die gevolg van geskiedkundige praktyke en die outomatiese teenreaksie om plaaswerkers se welstand te bevorder, meen die Vroue op Plase-projek.
Openbare sittings rakende die nasionale minimum loon is by die Parlement gehou.
Die Vroue op Plase-projek het tydens die sittings gevra dat ’n universele minimum loon met versekerde werksure en maandelikse lone ingestel moet word, veral om te verseker dat vroulike seisoenswerkers voldoende vir hul werk vergoed word.
Me. Colette Solomon, direkteur van die Vroue op Plase-projek, het gesê navorsing wat hulle verlede jaar laat doen het, het bevind dat 43% van plaaswerkers nie die wettige sektorale vasstelling betaal word nie.
Daar is ook bevind dat altesaam 72% van die vroulike seisoenswerkers nie toegang tot toilette in die wingerde het tydens hul werksdag nie, en 69% kom in aanraking met plaagdoders ’n uur nadat die wingerd bespuit is.
“Hierdie praktyke is ’n oortreding van verskeie arbeidswette.”
Sektorale vasstellings
Die organisasie het ook gevra dat die Minister van Arbeid se reg om sektorale vasstellings te maak, behou moet word en dat die vereistes vir die sektorale vasstelling vir plaaswerkers behou en versterk moet word.
Dit sal verseker dat plaaswerkers en -bewoners ’n reg tot behuising het en beskerming geniet teen oormatige huurgeld deur boere.
Die organisasie wil ook hê dat vroulike werkers hul eie behuisingskontrakte moet kry.
Mnr. Michael Bagraim, DA-LP, het gesê dit is skokkend dat minder as die helfte van die plaaswerkers nie die minimum loon betaal word nie. Hy het gesê werkgewers moet aangemoedig word om aan die wetgewing te voldoen. Hy het daarop gewys dat behuising en kos belangrik is en dat daar strenger handhawing van wetgewing moet wees om te verseker dat daar goed na plaaswerkers omgesien word.
Uitstel
Hoewel die inwerkingstelling van die nasionale minimum loon moontlik met ’n maand of wat teruggeskuif is, bied hierdie uitstel nie werklik ’n “blaaskans” aan landbousbesighede nie.
Die Regering het onlangs aangekondig dat die minimum loon nie op 1 Mei in werking sal tree nie, aangesien Parlementêre prosesse rakende die wetgewing daaroor nog nie voltooi is nie.
Mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsintelligensie by die landbousakekamer Agbiz, meen nie die uitstel sal ’n groot impak op landboubesighede hê nie, aangesien die meeste van hul werkers reeds meer as die minimum loon betaal word. Waar dit wel ’n uitwerking kan hê, is in pakhuise. Die impak sal egter minimaal wees mits die werknemers verstaan dat dit die staat en nie die werkgewer is wat die gewag veroorsaak het nie.