
Mnr. Henry Geldenhuys, voorsitter van TLU SA, sê die organisasie het verlede Desember aanbeveel dat die regering moet afsien van die toepassing van die verhoogde minimum loon totdat die ekonomie weer groei en werkloosheid afneem.
Hy sê dit blyk dat die nasionale minimumloonkommissie geensins ag geslaan het op kommentaar uit die landbousektor nie. Dit is bykans onmoontlik vir werkgewers, in hierdie geval boere, om hierdie vlakke van vergoeding te absorbeer. “Ons sidder om te dink wat die gevolge gaan wees vir werkloosheid in Suid-Afrika wanneer hierdie aanpassing in werking tree.”
Hy sê TLU SA aanvaar nie die redenasie dat die minimum loon verhoog word om werkers in ’n beter posisie te plaas nie. “Die regering se skynheilige optrede is duidelik wanneer die lone in die uitgebreide openbare werkskeppingsprogram en die private sektor vergelyk word. Die staat betaal die helfte minder teenoor ander sektore.
“As die regering regtig omgegee het oor die lot van werkers en werkloosheid in die land, sou hy sy aanslag tot arbeid heroorweeg het,” sê Geldenhuys. “As iemand verkies om eerder teen R100 per dag te werk en sodoende ’n inkomste verdien as om staat te maak op ’n toelae van R40 per dag, moet dit sy keuse wees. Die land het nou meer as ooit tevore werksgeleenthede nodig wat die vlakke van armoede sal verlig.
“Die landbousektor – en alle ander private bedrywe – moet eerder deur die regering ondersteun word om volhoubare werksgeleenthede te skep.”
Geldenhuys waarsku ook dat die hoër minimum loon tot ’n verdere styging in voedselpryse sal lei.
Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die organisasie is teleurgesteld dat die kommissie nie sy aanbeveling oor die minimum loon in ag geneem het nie. Agri Wes-Kaap het voorgestel dat dit op ’n volhoubare manier volgens die VPI moet verhoog en dat die huidige 10%-dispensasie nog twee jaar moet geld, waarna dit oor twee jaar uitgefaseer kan word.
“Hoewel baie permanente plaaswerkers meer as die minimum loon verdien, kan die landbou nie ’n verhoging van 16,1% in een produksie-inset bekostig nie. Die styging kom te midde van die nadelige uitwerking wat Covid-19-regulasies op die landbousektor gehad het, veral die impak op die wynwaardeketting met die verkope van alkohol wat reeds drie keer sedert die begin van die inperking verbied is. Volgens Statistieke Suid-Afrika se jongste kwartaallikse arbeidsmagopname het die indiensneming in alle bedrywe in die derde kwartaal van 2020 gekrimp, terwyl die landbousektor 72 000 (-8,2%) werksgeleenthede op ’n jaargrondslag verloor het.”
Hy sê die verhoging kom op ’n tydstip kom wanneer baie boere in die Klein- en Sentraal-Karoo, asook die Matzikama-distrik aan die Weskus steeds ly onder die voortslepende droogte wat ’n groot impak op die finansiële stabiliteit van landbou-ondernemings in hierdie gebiede het. “Baie produsente kan nie die verhoging te bekostig nie.”
Mnr. Francois Wilken, voorsitter van Vrystaat Landbou, sê die organisasie het benewens gesamentlike kommentaar ook individueel beswaar aangeteken teen die voorgenome aanpassings en het gewaarsku dat die aanpassings kan lei tot werkverliese. Dit blyk dat hierdie waarskuwing op dowe ore geval het. Die reeds hoë werkloosheidsyfer gaan waarskynlik verdere styg.
Hy sê die aanpassing in die minimum loon is in sommige opsigte gegrond op aannames, omdat die nasionale minimumloonkommissie nie die toepaslike inligting gehad het nie.
“Die tyd sal leer, maar hierdie ondeurdagte besluit gaan boere dwing om alternatiewe te oorweeg om ekonomies te bly voortbestaan.”