Die goedgekeurde oorname van Massmart deur Walmart het tot ’n stryd tussen verskeie ministers in die Suid-Afrikaanse regering gelei.
Dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye het in ’n nuusverklaring sy ontevredenheid te kenne gegee met me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, se indiening van ’n hersieningsaansoek oor die Walmart-transaksie.
Joemat-Pettersson het die aansoek saam met mnr. Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling en dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, ingedien.
Hersien
Dié ministers het die Mededingingstribunaal se goedkeuring van die Massmart-oorname in hersiening geneem, aldus Sake24. Dit is glo die eerste keer sedert die ontstaan van die mededingingsowerhede dat ’n aansoek van dié aard ingedien is.
Mulder meen glo dat dié stap op buitelandse beleggings sal benadeel in ’n tyd wanneer sulke beleggings broodnodig is. Hy meen ook dat dié verwikkelinge ’n gevolg is van faksies binne die ANC wat glo dat ’n meer sosialistiese bestel die Suid-Afrikaanse ekonomie se redding sal beteken.
Daar word aangevoer dat die tribunaal nie die openbare belang, veral wat betref potensiële werksverliese, behoorlik in ag geneem het nie.
'Malligheid'
Intussen het mnr. Christo Luüs, hoofekonoom van Ecoquant, die ministers se aansoek as “malligheid” bestempel, aldus Sake24.
“Suid-Afrika het buitelandse beleggings nodig. Almal het uit die staanspoor gesê as die transaksie afgekeur word, kom dit daarop neer dat Suid-Afrika sê hy stel nie in buitelandse kapitaal belang nie,” sê Luüs.
“Enige twee Suid-Afrikaanse maatskappye wat wil saamsmelt, sal nou dink dat hulle eers na Patel toe moet gaan vir goedkeuring en dan sal die tribunaal sy besluit outomaties goedkeur.”
Bron: Sake 24
25 Julie 2011