
Vir die eerste keer erken die regering en Eskom dat die land se kragvoorsiening baie ernstige probleme ervaar. Al word die politiek uit die debakel gehaal en is genoeg geld beskikbaar om alles om te draai, gaan dit minstens 10 jaar kos om reg te kry. “Baie kundigheid is nodig om die kragsentrales wat gemiddeld 38 jaar oud is, weer in volle produksie te kry.”
Die ontnugterende nuus kom van mnr. Paul Nel, ’n konsultant van die Aurecon-groep. Hy het tydens die Hortgro-simposium in Somerset-Wes gesê Suid-Afrika staar ’n onsekere toekoms in die gesig wat kraglewering betref. Kragsentrales lewer gemiddeld 50% tot 60% van hul vermoë, want baie min instandhoudingswerk is die afgelope 10 jaar gedoen. Die netwerk is oud. Kragsentrales is gemiddeld 38 jaar oud en 65% daarvan ouer as 36 jaar. Die nuwe kragsentrales – Medupi en Kusile – se koste het gestyg tot R400 miljard en is sewe jaar agter skedule.
Sal SA oorleef?
“Eskom se R450 miljard skuld maak 15% van die land se totale skuld uit, en die maatskappy het reeds R47 miljard se diesel opgebrand om ’n 2 000 MW kapasiteit te behou.” Steenkoolpryse het sedert 2008 met 400% gestyg.
Kan al Eskom se probleme opgelos word? “Ek weet nie, maar as alles nou reggestel kan word, kan dit tot ’n dekade kos voor hy weer op volle krag sal wees. Maar Suid-Afrika sal oorleef.”
Hoër tariewe is ’n gegewe, en ’n reddingsboei van R69 miljard sal die volgende drie jaar deur die regering gegee moet word. Elektriese tariewe het in die afgelope 10 jaar met 500% geklim.
Eskom sal ook goedkoper, hernubare energie-tegnologie (skoon energie) moet inspan. Die tegnologie bestaan, maar daar ’n teken ten gunste daarvan die regering kom. Eskom sal in die toekoms ook beslis van al onbelangriker raak namate die private sektor toetree tot die lewering van elektrisiteit, meen Nel.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.