
Veediefstal het egter met 2,9% tot 29 672 aangemelde voorvalle gestyg. Met 21 022 mense, 686 meer as die vorige boekjaar, wat reg oor Suid-Afrika vermoor is, is dit duidelik dat die polisie nog nie ’n groot deurbraak gemaak het om beter beskerming te bied nie.
Volgens die statistieke wat AfriForum oor plaasmoorde byhou, het 48 moorde en 418 plaasaanvalle in die vorige boekjaar plaasgevind.
Mnr. Bheki Cele, minister van polisie, het met die bekendstelling van die statistieke by die parlement gesê volgens statistieke was die algehele moordsyfer in 1994 rondom 31 000. Dit het daarna elke boekjaar met sowat 1 000 moorde gedaal. In 2012 het die syfer weer begin styg. Die rede hiervoor sal vasgestel moet word.
Kommer oor veediefstal
Cele het gesê dat groter klem op veediefstal geplaas gaan word omdat dit ’n massiewe ongunstige ekonomiese impak op die vee-eienaars het. Dit is ’n misdaad wat enige boer kan tref, maak nie saak of dit ’n kommersiële boer of ’n kleinboer is nie.
“Sekere individue het 20 beeste en die diewe vat almal. Vir daardie huishouding is dit die grootste bankroof.”
Hy het gesê hoewel veediefstal nie so toneelmatig is soos transitorooftogte waar polisiehelikopters ingestuur word nie, is die impak erger vir daardie huishouding wat nie verseker is nie en wat hul hele pensioen daarin belê het.
Gesteelde vleis
Cele het gesê veediefstal is ’n hoogs georganiseerde misdaad. “Ons weet dat baie shisa nyama’s (plekke in townships waar jy braaivleis kan koop) die gesteelde vleis gebruik. Selfs by amptelike instellings (word dit gebruik), want jy vind sommige hospitale word met gesteelde vleis voorsien.”
Meer hulpbronne sal nou aangewend word om veediefstal te beveg. Hy het benadruk dat hierdie misdaad ook ’n oorgrensmisdaad is en dat dit gereeld op die agenda van samesprekings met buurlande is.
“Mense sterf in die stilte wanneer hul hele rykdom in een nag gevat word.” Veediefstal het ook gewelddadig geword. “Hulle kom klop aan jou deur en sê jy moenie uitkom nie. Daar is een of twee geweerskote om jou te waarsku om nie uit te kom nie en hulle vat die hele kraal en loop.”
Genl.maj. Norman Sekhukhune, hoof van navorsing en statistieke van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, het gesê mense in landelike gebiede wat nie georganiseerd is nie, word die meeste aangeval. “Hulle het nie ’n stem of ’n organisasie wat ter wille van hulle praat nie.”
Altesaam 9 273 veediefstalle het in landelike gebiede voorgekom, 7 865 in bewoonde gebiede en 1 652 in informeel bewoonde gebiede. Selhukhune het gesê ’n grondige ontleding sal gedoen word sodat meer voorkomend opgetree kan word.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.