
Hierdie reaksie kom nadat die nuutste misdaadstatistieke vandag bekend gemaak is. Vanaf Oktober 2022 tot Desember 2022 is 86 moorde in landelike gebiede aangemeld met 92 pogings tot moord.
Schilling sê intelligensiegedrewe bedrywighede is iets wat Suid-Afrikaners slegs in TV-programme sien.
“Die vonnisse wat vir misdade opgelê word, indien enige, is ook lankal nie meer ’n afskrikmiddel vir die misdadiger nie.”
Mnr. Bertus van der Westhuizen, TLU SA se streekvoorsitter in die Vrystaat, meen mnr. Bheki Cele moet as minister van polisie verantwoordelikheid vir die misdaadsyfers aanvaar. “Ons as publiek betaal hom met belastinggeld ’n salaris om hierdie baie belangrike en verantwoordelike taak te verrig. Hy moet ons beskerm en ’n veilige en ordelike omgewing skep waarbinne ons kan werk en leef. Hy doen dit nie. Hy misluk in die taak waarvoor ons hom betaal. Hy moet sy pos ontruim en plek maak vir iemand wat die werk kan doen.”
Mnr. Herman de Wet, TLU SA se streekvoorsitter vir KwaZulu-Natal, stel die oplossing vir die probleem voor: “Haal die vrot elemente uit die SAPD sodat planne in werking gestel kan word.”
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê as die regering daadwerklik opgetree het om na inwoners se veiligheid om te sien, sou statistieke nuttig gewees het. “Die statistieke wys slegs hoe onbevoeg die regering is om na inwoners se veiligheid om te sien. Solank die SAPD aanhou funksioneer soos tans sal daar nie vertroue in die staat wees om veiligheid doeltreffend te bestuur nie.”
'n See van rooi, sê VF
“Soos met die energiekrisis, sit Suid-Afrika met ’n misdaadprobleem wat rampspoedige vlakke bereik het en dringende aandag vereis, voordat dit – nes Eskom – te laat is om te red.”
Só sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF-Plus.
Volgens die nuutste misdaadsyfers van 2022 se laaste kwartaal (Oktober tot Desember) is altesaam 27 066 mense verlede jaar vanaf Januarie tot Desember in Suid-Afrika vermoor.
“Dit is 2 256 mense per maand, oftewel 76 elke dag. Elke ander misdaadkategorie lees ewe skokkend,” sê hy.
“Die misdaadstatistieke wat vandag bekend gemaak is, maak dit duidelik dat die minister van polisie, mnr. Bheki Cele, die stryd teen misdaad verloor het. ’n Nuwe minister is dringend nodig om die situasie om te keer.”
Skerp toename in syfers
Kontakmisdaad het in die laaste kwartaal van 2022 skerp toegeneem teenoor die ooreenstemmende tydperk ’n jaar gelede. Dit sluit in moord (7 555, op met 10,1%), seksuele oortredings (9,6%), poging tot moord (24,3%), aanranding met die doel om ernstig te beseer (8,7%), aanranding (12%), roof (21,2%) en gewapende roof (10,8%). Die gemiddelde toename is 11,6%.
Wat seksuele oortredings aanbetref, het verkragting toegeneem met 9,8% en seksuele aanranding met 4,1%.
Verlede kwartaal was die toename in kontakmisdaad 14,75%.
Motorkapings (teenoor ’n jaar gelede) het met 2,8% toegeneem en roof by woonhuise met 8,6%.
Rooftogte elders toon ’n geringe afname van 3%, maar vragmotorkapings het met 9,8% toegeneem.
Die toename in die sogenoemde minder ernstige misdaad is ewe skerp.
Inbraak in woonhuise (7,4%), diefstal van motors en motorfietse (3,3%), diefstal uit motors (9,9%) en winkeldiefstal (23,3%) het almal toegeneem.
Groenewald sê Suid-Afrikaners gaan reeds swaar gebuk onder die krimpende ekonomie en moet groot koste aangaan om hulself, hul geliefdes en eiendom te beveilig, terwyl die polisie “al hoe minder beskerming bied”.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.