
“Die syfers lyk nie goed nie.” Dít was mnr. Bheki Cele, minister van polisie, se eerste woorde toe die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke vandag bekend gemaak is.
Die syfers het – vergeleke met die vorige kwartaal - skerp toegeneem vanaf Julie tot September.
Veediefstal het die afgelope drie maande met 7,4% toegeneem en 7 342 voorvalle is landwyd by die polisie aangemeld. Dit is 679 meer voorvalle as in die vergelykbare tydperk.
Plaasmoorde en -aanvalle het ook skerp toegeneem. In die vorige kwartaal was daar 15 voorvalle waarin boere, van hul familielede en plaaswerkers vermoor is.
In die afgelope drie maande is 16 plaasaanvalle aangeteken - 9 in Julie, 3 in Augustus en 4 in September.
Een van die voorvalle was by Kestell waar sewe mense – insluitend plaaswerkers, ’n boervrou en haar kind – tydens ’n rooftog vermoor is.
Meer as 7 000 moorde is net vanaf Julie tot September vanjaar in Suid-Afrika gepleeg.
Kontakmisdade
Luidens die statistieke het alle kontakmisdade in die tydperk met 18,5% tot 162 518 aangemelde voorvalle gestyg, teenoor die 137 145 voorvalle in dieselfde tydperk in die vorige boekjaar. Dit is 25 373 voorvalle meer.
Die getal moorde het met 13,6% toegeneem van 6 163 in die vorige vergelykbare tydperk tot 7 004, het genl.maj. Norman Sekhukhune, hoof van die polisie se misdaadnavorsing en statistieke, gesê.
Cele het gesê die syfers wys dat vroue en kinders steeds slagoffers van geweld, moord en verkragting bly. In die afgelope drie maande is meer as 13 000 vroue aangerand, en 989 vroue en 315 kinders is vermoor.
Seksuele oortredings het met 11% toegeneem tot 13 283 voorvalle. Bykans 11 000 mense is verkrag. Dit is gemiddeld sowat 120 verkragtings per dag. Die syfer het met 10,8% gestyg.
Die syfers toon dat aggressie en geweld kommerwekkende vlakke aanneem, het Cele uitgewys.
Daar is in die afgelope drie maande ’n rekordgetal aanrandingsklagte – meer as 85 000 – by die polisie aanhangig gemaak. Rusies, misverstande en uitlokking is van die hoofredes vir voorvalle van aanranding.
Daar was 15,8% meer voorvalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer met 41 251 voorvalle wat aangemeld is. Gewone aanranding het met 19,5% toegeneem tot 44 395 voorvalle.
Pogings tot moord het met 19,4% gestyg tot 6 155 voorvalle.
Gewone roof het met 25% toegeneem tot 12 024 voorvalle en roof met verswarende omstandighede met 22% tot 38 412 voorvalle.
Ontvoering het nasionaal verdubbel met meer as 4 000 sake wat by die polisie aangemeld is.
Huisrooftogte het met 8,4% toegeneem tot 5 825 aangemelde voorvalle. Sakerooftogte het met 8,8% toegeneem tot 5 294 voorvalle. Die kaping van motors het met 23,6% toegeneem tot 6 149 voorvalle en die kaping van vragmotors met 36,8% met 562 voorvalle wat aangemeld is.
Ander kategorieë misdade wat toegeneem het, is brandstigting, kwaadwillige saakbeskadiging, veediefstal, misdade wat weens polisie-optrede bespeur is, dwelmverwante misdade en dronkbestuur.
Die enigste kategorie misdaad wat ’n daling getoon het, was die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Dié syfer het met 20,6% tot 4 047 gedaal.
Vuurwapens was vir 2 808 moorde in die land verantwoordelik, gevolg deur messe (930), ander skerp voorwerpe (556), stomp voorwerpe (184), liggaamsdele (134) en bakstene en klippe (109).
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.