
Cele
het vandag (17 Februarie) die misdaadsyfers vir die tydperk Oktober tot
Desember 2022 bekend gemaak.
Hy het tydens sy toespraak gesê die polisie hoor Suid-Afrikaners se noodkrete dat misdaad bekamp moet word hard en duidelik. Hoewel die misdaadsyfers nie goed is nie, is dit volgens hom duidelik dat die polisie probeer om misdaad hok te slaan.
Cele het uitgewys dat die tydperk van dié betrokke statistieke die feestyd insluit en dat daar vir die eerste keer sedert die uitbreking van die covid-19-pandemie geen inperkingsmaatreëls gegeld het nie. Mense kon dus vrylik rondbeweeg en byeenkom.
Kontakmisdade soos moord, aanranding en roof het gedurende die derde kwartaal met 11,6% toegeneem, maar Cele meen daar was aansienlike verbetering danksy die polisie se optrede. Transito- en bankrooftogte het gedurende die tydperk afgeneem danksy meer sigbare polisiëring.
Gedurende die feestydperk is 52 711 mense in hegtenis geneem vir onder meer moord, seksuele misdade, aanrandings, kapings en ander ernstige misdade.
Van die 7 555 mense wat vanaf Oktober tot Desember vermoor is, is 3 144 mense doodgeskiet, terwyl 2 498 met ander wapens soos messe of skerp voorwerpe vermoor. Verskeie mense is met kaal hande vermoor.
“Dit is duidelik dat ’n groter gesprek gevoer moet word oor wat die gewelddadige misdaad in Suid-Afrika veroorsaak. Hoewel vuurwapengeweld ’n probleem is en lewens asook lewensbestaan bedreig, is dit duidelik dat vuurwapens slegs deel van ’n groter probleem is. Die kern van die saak, is menslike gedrag.
“Ons moet eerlik wees oor wat geweld veroorsaak, en dit aanpak.”
Vanaf Oktober tot Desember is 4 992 mense in hegtenis geneem in verband met geslagsverwante geweldsmisdaad. Altesame 5 935 mense is gedurende hierdie tydperk in hul eie huis of die huis van hul aanvaller verkrag.
Hy sê die polisie probeer tans op klustervlak planne beraam om die kwessie van poreuse grense op te los aangesien dit ’n direkte impak op polisiëring het. Meer as 13 000 onwettige buitelanders is gedurende die tydperk in hegtenis geneem. Oplossings vir die oorgrensmisdaad word met die polisie en regering se eweknieë in Lesotho en Mosambiek bespreek.
Volgens Cele het veediefstal gedurende die tydperk met 0,6% toegeneem. Daar is nie na plaasmoorde en -aanvalle spesifiek verwys nie. Die algemene moordsyfer het met 10,1% toegeneem en poging tot moord met 24,3%.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.