
Die feit dat daar tydens die
aankondiging van die nuutste misdaadsyfers slegs van plaasmoorde melding gemaak
is, terwyl plaasaanvalle nie pertinent uitgelig is nie, laat ’n mens wonder of
die regering en polisie dan laasgenoemde nie meer as ’n prioriteitsmisdaad
beskou nie, sê dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder by Vrystaat Landbou.
Mnr. Bheki Cele, minister van polisie, het die misdaadstatisieke vir die tydperk van 1 Oktober 2021 tot 31 Desember 2021 op 18 Februarie bekend gemaak. Volgens die polisie se statistieke is 6 859 moorde in die derde kwartaal van die 2021-’22-boekjaar in Suid-Afrika gepleeg. Moord toon ’n toename van 562 of 8,9% wanneer dit met die ooreenstemmende tydperk van die vorige boekjaar vergelyk word.
Buys sê daar is geen melding gemaak van plaasaanvalle nie, maar slegs plaasmoorde. “Die vraag ontstaan waarom die regering en die polisie dit nie meer as ’n prioriteit beskou dat moord nie die enigste ernstige geweldsmisdaad is wat die landbousektor teister nie.”
Volgens die polisie was daar 11 plaasmoorde gedurende die derde kwartaal van die 2021-’22-boekjaar, ’n daling van 50% teenoor die ooreenstemmende tydperk in die vorige boekjaar. Drie van die moorde het in die Vrystaat plaasgevind, wat 57,14% minder is vergeleke met die ooreenstemmende tydperk in die vorige boekjaar toe 7 plaasmoorde en 19 plaasaanvalle in dié provinsie aangeteken is. Volgens Buys was daar 15 plaasaanvalle gedurende die derde kwartaal van die 2021-’22-boekjaar.
Waar pas dié syfers in?
“Wat egter nie lekker sin maak nie, is die verwysing na waar die moorde plaasgevind het, naamlik dat 70 moorde op plase/kleinhoewes/landbougrond plaasgevind het, dat daar 69 voorvalle van poging tot moord was op plase/kleinhoewes/landbougrond en dat daar 291 gevalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer op plase/kleinhoewes/landbougrond was. Hou al die insidente verband met alkoholmisbruik en of huishoudelike geweld, of vorm dit deel van plaasaanvalsyfers?”
Wat veediefstal betref, sê sy is Harrismith en Selosesha is onderskeidelik 11de en 12de onder die top-30-polisiekantore in Suid-Afrika vir Oktober 2021 tot Desember 2021. Volgens haar het Heilbron ’n toename van 60,87% in die aanmelding van veediefstal gehad. Daar is 14 sake vanaf Oktober 2021 tot Desember 2021 aangemeld. Die Vrystaat het ’n daling van 11,9%, dus 121 sake in die aanmelding van veediefstal gehad – slegs 899 veediefstalsake is aangemeld.
Buys vertel daar was gedurende verlede jaar se feestyd ’n groot poging deur die polisie en veral boerderygemeenskappe om veediefstal aan te pak deur hoë sigbaarheid, onder meer patrollies. Dit het tot ’n afname in voorvalle en gevolglik aanmelding gelei.
“Dit is ook so dat boere in sekere boerderygemeenskappe glad nie meer veediefstal aanmeld nie, veral in die distrik Bethlehem, wat Paul Roux insluit, waar 60% van gevalle nie aangemeld word nie omdat daar nie meer vertroue in die polisie en die regstelsel is nie.”
Ernstige probleem
Sy sê gegewe die hoë vlakke van ernstige geweldsmisdade in Suid-Afrika bly dit ’n groot en ernstige probleem. “Die landbousektor word nie net aangeval met plaasmoorde nie, maar ook met plaasaanvalle waartydens verskeie slagoffers geraak word, naamlik boere, opkomende boere, werkers, voormanne, sekuriteitswagte en selfs mense wat op plase/kleinhoewes woon.”
Volgens haar het Cele nog altyd in sy aanbieding melding gemaak van plaasaanvalle wat ernstige geweldmisdade soos rooftogte, poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer insluit. “Dit is nie net slegs moorde wat die landbousektor traumatiseer en ’n impak laat op die psige van slagoffers nie. Die ernstige beserings wat met plaasaanvalle gepaard gaan, maak dat heelwat boere en hul families hul plase verlaat en verkoop. Dit het dan ’n impak op indiensneming en dwing werkers om ’n ander heenkome te vind wanneer boere van hul plase af wegtrek.”
Sy voeg by dat dit belangrik is vir die landbousektor om eerder geverifieerde misdaadstatistieke by die polisie te kry as om self databasisse by te hou aangesien die polisie volgens wet die bewaarders van misdaadstatistieke is.
Buys sê die polisie se versuim om plaasaanvalle pertinent uit te lig, laat Vrystaat Landbou wonder of dit ’n impak op die landelike beveiligingstrategie sal hê en plaasaanvalle dan minder aandag sal geniet. Dit is volgens haar ook moontlik dat die versuim bloot weens nalatigheid was of dat dit slegs in jaarlikse misdaadstatistieke uitgelig word.
“Vrystaat Landbou wil verseker dat die relevansie van die landelike beveiligingstrategie, asook ’n veilige en volhoubare landbousektor steeds vir die regering en polisie ’n prioriteit is. Ook dat dié prioriteite die nodig aandag sal geniet sodat die ernstige geweldsmisdaad wat die sektor bedreig, doeltreffend bekamp sal word.”