AFGRI
BEAN
02 Feb
-
9604
-189,00
CORN
02 Feb
-
4550,4
-19,60
SOYA
02 Feb
-
8815
-94,00
SUNS
02 Feb
-
11369,8
71,80
WEAT
02 Feb
-
6722
-47,00
WMAZ
02 Feb
-
4298,6
-13,40
YMAZ
02 Feb
-
4419
-26,00

‘Moderne melkman’ maak inkopies ’n piekniek

akkreditasie
Die slim ontwerpte elektroniese paneelwaens waarmee Picnic kruideniersware aflewer. Deesdae is dit ’n algemene gesig in Neder­landse en Duitse stede. Dit bied die gerief van die outydse melkman wat klokslag aflewer, maar met die voordeel dat die aanlyn winkel ’n groot verskeidenheid produkte bied en boonop gratis aflewer.  FOTO’S: VERSKAF
Die slim ontwerpte elektroniese paneelwaens waarmee Picnic kruideniersware aflewer. Deesdae is dit ’n algemene gesig in Neder­landse en Duitse stede. Dit bied die gerief van die outydse melkman wat klokslag aflewer, maar met die voordeel dat die aanlyn winkel ’n groot verskeidenheid produkte bied en boonop gratis aflewer. FOTO’S: VERSKAF
Die Nederlandse aanlyn supermark Picnic het inkopies in dié land op sy kop gekeer met sy unieke elektriese paneelwaentjie wat jou kruideniersware in ’n japtrap aflewer, sonder ekstra koste. En met die Covid-19-pandemie se voet steeds stewig op die petrol, is hy besig om ook aan Duitse kopers ’n moderne en gerieflike inkopie-ervaring te bied.

Picnic is ’n kruidenierswarewinkel wat ’n mens in jou slimfoon se toepassingswinkel sal vind. Wat hom egter kop en skouers bo die res laat uitstaan, is dat hy ’n alles-in-een diens bied.

Jy kan dus alles daar koop wat jy in ’n baksteenwinkel sal vind, maar hy waarborg ook gratis aflewering én die laagte prys.

“Ons noem onsself die moderne melkman,” het me. Veronique Gerdes, kategoriebestuurder by Picnic, wat in 2015 in Amersfoort sy eerste vrag afgelewer het, gesê op die virtuele World of Fresh Ideas-konferensie wat deur Fruitnet met die samewerking van Fruit Logistica aangebied is.

“Jare gelede was ’n melkman met ’n trokkie vol melk of eiers ’n algemene gesig in woonbuurte. Hy het elke dag op dieselfde tyd sy produkte by huise afgelewer.

Toe maak supermarkte hul verskyning en alles wat jy nodig het, is op een plek beskikbaar en teen ’n beter prysstruktuur.

Ons stigters wou albei dié dienste lewer: Die laagste prys, maar ook die volle verskeidenheid met die gerief van ’n melkman wat klokslag aflewer.”

TEGNOLOGIE DEURSLAGGEWEND

Klink dit te goed om waar te wees? Tegnologie – harde- én sagteware – was deurslaggewend in Picnic se sukses.

Die onderneming gebruik tegnologie om die laagste pryse van die dag op te spoor en te klop, én kan danksy tegnologie die afleweringstyd tot op die minuut waarborg.

Danksy voorspellingstegnologie is sy aankope ook in die kol, wat kosvermorsing keer.

Gerdes het gesê die onderneming se verskaffingsketting bestaan uit groothandelaars én boere uit die omgewing wat daagliks by sy verspreidingsentrums aflewer.

Klante plaas hul bestellings die vorige dag. Dit word saamgestel, verpak en in die elektriese paneelwaentjies gelaai wat dan, soos die destydse melkman, sy vaste roete vir die dag aanpak.

“Dit maak ons baie doeltreffender as om ’n taximodel te volg waar ons kruis en dwars oor stede moet ry om aflewerings te doen.”

Heelwat van die sagteware is spesifiek vir Picnic geskep, maar hardeware is net so belangrik. Die geluidlose elektriese paneelwaentjies is byvoorbeeld uniek aan Picnic.

“Veral kinders is dol daaroor, want dit het ’n ongewone vorm! Die waentjies is klein en kompak, maar danksy die hoogte kan dit baie kruideniersware hou.

“Die vrag word van die kante af op- en afgelaai met net twee klikke. Danksy die maer ontwerp kan ons afleweraars binne ’n oogwink die aflewering doen, sonder om die verkeer agter hulle op te hou.”

In 2018 het Picnic ook na Duitsland uitgebrei, waar hy aanvanklik 700 klante in een stad bedien het. Vandag het hy 200 000 Duitse kopers in 45 stede, wat deur 400 paneelwaentjies bedien word.

“Dit bewys daar is ’n mark vir ons soort diens, en dié mark groei.

Natuurlik het Covid-19 gehelp om die versnelknoppie te druk, maar ons meen mense sou die een of ander tyd agtergekom het hulle wil eerder hul tyd saam met vriende en familie deurbring as om in ’n ry by die supermark te staan.”

DINK NUUT OOR DINGE

Natuurlik moes die mense agter Picnic nuut gaan dink oor dinge soos impulsiewe inkopies en hoe om vars produkte te laat werk in die aanlyn wêreld.

Gerdes het vertel waar verleidelike rakuitstallings in winkels dikwels kopers vang om iets op die ingewing van die oomblik te koop, het ’n aanlyn winkel nie dié luukse nie.

“Ons moes maniere vind om impulse te veroorsaak in alledaagse situasies. As iemand byvoorbeeld aan tafel sit en skielik lus raak vir avokado, moet ons net ’n knoppie weg wees sodat hy daar en dan kan avokado’s koop of by sy inkopielys voeg. Ons kan ook produkte onder verbruikers se aandag bring deur dit op die toepassing te bevorder.”

Die ander ding waaraan hulle moes dink, was die teorie dat mense makliker droë produkte aanlyn sal koop as vars produkte.

“Ons klante het dit egter verkeerd bewys. Bykans die helfte van ons kopers se mandjies bestaan uit vars produkte, soos vrugte, groente, melk en vleis. Dit wys jou net – dit ís moontlik as jy dit reg doen.”

Sy meen vars produkte is só gewild in hul winkel omdat die gehalte uitstekend is – selfs beter as wat tradisionele supermarkte kan bied.

Kopers sal dikwels die eerste keer as ’n proeflopie vars produkte bestel, maar wanneer hulle besef die gehalte is so goed, raak dit ’n gereelde verskynsel.

“Ons werk op dieselfde dag met alles. Die produkte wat die oggend inkom, het teen die aand ons verspreidingsentrum verlaat.

Die produkte word in bestendige temperatuursones vervoer en nie blootgestel aan temperatuurskommelings wat in supermarkte kan plaasvind nie.

“Ons produkte word ook baie minder hanteer – net sowat drie keer teenoor die ongeveer tien keer wat produkte in supermarkte hanteer word.

“Ons het ook ’n span wat die hele dag lank gehalte nagaan. Mense vertrou ons om die beste produk vir hulle te kies, daarom word elke avokado eers nagegaan voor dit na ’n klant toe gaan.

As jy die regte gehalte aflewer, werk vars produkte baie goed aanlyn.”

Die aanlyn model het ook veranderinge gebring in waar en wanneer mense hul kruideniersware koop.

“Mense is nie meer gebind aan sekere ure om by ’n winkel uit te kom nie. Hulle kan enige tyd van die dag en van enige plek af inkopies doen – selfs waar hulle voor die televisie saam met hul gesinne sit.”

NEIGINGS STEEK VIRTUEEL KOP UIT

Waar plaaslike aankope ’n paar jaar gelede ’n nuutjie was onder klante, is daar baie kopers wat dit nou as ’n gegewe beskou.

“Mense dink aanlyn kan dit nie regkry nie omdat alles van ’n groothandelaar af kom en dan lewer ons dit net af. By Picnic doen ons dit egter anders. Boere uit die omgewing lewer elke dag vir ons produkte, soos appels, aspersies en aartappels, af, wat ons dan baie vars by klante uitkry.

Hulle hoef nie eens meer na ’n boeremark te gaan nie en hulle weet die produkte het nie reg om die wêreld gereis nie. Dit verseker ook seisoenaliteit.”

Tegnologie is nuttig om volhoubaarheid aan te dryf en die onderneming se span dink voortdurend aan wat hulle kan doen om meer omgewingsbewus op te tree.

“Aanlyn het die voordeel dat vermorsing beperk word. As jy ’n supermark binnegaan, maak nie saak hoe laat in die dag dit is nie, wil jy ’n vol rak met ’n mooi aanbieding sien.

Met ’n aanlyn toepassing lyk die prentjie altyd mooi en vars, ongeag die tyd van die dag of nag. Só kan ons vermorsing verminder.

Ons tegnologie wat voorspellings doen, help ons om te bestel net wat ons daardie dag nodig het.”

Gerdes het gesê dit is heelwat makliker vir aanlyn winkels as tradisionele winkels om nuwe idees, produklyne of kategorieë op die proef te stel.

Tradisionele supermarkte moet in rakspasie en verkoeling belê om fokuspunte te skep wat verbruikers se aandag na die nuwe produkte sal trek.

“In ’n aanlyn wêreld integreer ons dit net met die normale koppelvlak, maar plaas dit op ’n gewilder plek in die toepassing. Jy hoef dus nie vooraf baie kapitaal uit te gee nie.”

As ’n voorbeeld het sy verduidelik hoe voorafgesnyde produkte ’n alledaagse gesig in Nederland is, maar eintlik ongehoord is in Duitsland. Dit was een van die nuwighede wat die onderneming op die proef gestel het.

Danksy die goeie gehalte en bewusmaking werk dit uitstekend by Picnic, en mense wat skielik vir hulself moet kosmaak, waardeer die gerief. Met dít alles in gedagte is Gerdes oortuig aanlyn handel sal groei, selfs lank nadat Covid-19 getem is.

Produkte word van boere en groot­handelaars af by Picnic se verspreiding­sentrums afgelewer, van waar dit binne ’n dag versprei word. Klante is dikwels verras oor die gehalte van vars produkte wat hulle deur die winkel bestel.

VARS PRODUKTE EN DIE TOEKOMS

Aanlyn verkope groei, plaaslike produksie wen verbruikers se harte, en skielik kan almal kook (en daaroor spog op sosiale media).

Die koronaviruspandemie het talle nuwe neigings in die varsproduktebedryf meegebring, maar ook ander wat al lank sluimerend was, laat vlamvat.

Maatskappye wat die vinnigste by die veranderende pandemie-omgewing kan aanpas, sal uiteindelik bo uitkom.

“Daar is egter plek vir álmal. Ja, groter maatskappye kan voordeel trek, maar ons meen daar word ook geleenthede geskep vir kreatiewe organisasies wat baie ratser is om by verbruikers se behoeftes aan te pas.”

Só het mnr. Raul Fernandez, uitvoerende hoof van Thx!, Breakthrough Solutions en Back on Track in Amerika, op die virtuele World of Fresh Ideas-konferensie gesê.

“Die herskikking van die ekonomie bied voordele vir groot entiteite, maar dit skep ook baie ruimte om nuwe dinge op die proef te stel.

Dink maar daaraan – eers was daar selfdedag-aflewering, toe aflewering binne 2 uur en nou is daar selfs al aflewerings wat binne 15 minute geskied!”

Breakthrough Solutions het met die aanvang van die koronaviruspandemie ’n opname reg oor Amerika gedoen om te probeer bepaal watter neigings die toekoms inhou.

Die volgende sewe het uitgestaan. Alles gebeur aanlyn. Mense se kommer om in winkels te wees saam met ander inkopiegangers by wie hulle die virus kan aansteek, het gelei tot drastiese groei in aanlyn kanale.

“Aanvanklik was hulle nie gewoond daaraan nie en baie mense is gedwing tot aanlyn handel, maar nou ken hulle dié veld en gebruik dit al hoe meer,” volgens Fernandez.

Daar is egter steeds baie frustrasies in dié sfeer en sommige klante vind dit ’n stresvolle ervaring. “Kopers het byvoorbeeld nie meer ’n keuse tussen rypheidsgraad of produkgrootte nie.

Dit skep ’n geleentheid vir kleinhandelaars, produsente en verskepers om handelsmerke meer relevant te maak.

Hulle moet gaan nadink oor hoe hulle die aanlyn ervaring meer bevredigend vir kopers kan maak.”

Dink oor verpakking. Mense wil die versekering hê dat daar nie met hul produkte gepeuter is nie of dat dit nie op een of ander manier besmet is nie – veral omdat dit afgelewer word en hulle nie self die perfekte tamatie of ongekneusde avokado op die supermarkrak kan uitsoek nie.

Verpakking is dus noodsaaklik, maar aan die ander kant vra kopers ook vir verpakking wat omgewingsvriendelik is en waarmee hulle maklik kan wegdoen sonder om ekstra belasting te betaal (soos in die geval van Europese lande) om daarvan ontslae te raak.

“Mense vertrou vars produkte meer as daar ’n versperring is tussen die produk en die hande wat daarmee werk. Voorheen het dinge soos plastiek, aluminium of multilaagfilm dié versperring verskaf, maar dit is alles dinge wat baie moeilik is om van ontslae te raak as dit klaar hul doel gedien het,” het Fernandez gesê.

Daar is dus ’n beweging na omgewingsvriendeliker verpakking wat vervaardig word uit meer vesel en minder plastiek.

“Ons sal meer daarvan in die hande moet kry. Ek meen verbruikers sal baie gunstig daarop reageer.”

“Plaaslik” kry nuwe betekenis. Met vertikale boerdery wat nou so ver strek soos die oprigting van kweektorings binne supermarkte, sien verbruikers plaaslike produksie in ’n heel nuwe lig.

Vertikale boerdery met ’n hoë produksievermoë raak ’n algemener verskynsel in veral in ontwikkelde lande, onder meer omdat die tegnologie verbeter en die koste daarvan afneem.

Dié boerderye kan die perfekte toestande skep om bykans enige gewas enige tyd van die jaar te kweek. Boonop is net ’n klein lappie grond daarvoor nodig.

“Plaaslik” raak dus só plaaslik dat dit beteken jou blaarslaai word ín die winkel gekweek of jou aarbeie word net aan die buitewyke van die stad geoes.

“Dit gaan hand aan hand met die neiging om vervoerafstande vir kos te verminder en jou koolstofspoor te verklein. Maar hoe gaan tradisionele boere daarmee meeding? En gaan ‘seisoenale produksie’ nog enigiets beteken?” wou Fernandez weet. Die huis is waar die hart is. “Die pandemie het van ons almal kokke gemaak. Ons moes oornag leer om nie water aan te brand nie!” het hy grappenderwys gesê.

“Dit het ’n interessante verskynsel meegebring. Nie net is almal skielik dol oor kosmaak nie, maar hulle huiwer nie om met hul geregte op sosiale media te spog nie – iets wat die sogenaamde beïnvloeder-neiging (influencer trend) net nog sterker gemaak het.

Fernandez meen dié neiging sal voortduur. Hy voorsien ’n terugkeer na restaurante (namate dit stadigaan in Europa en elders begin heropen ná die Covid-19-pandemie), maar meen ook mense gaan aanhou om tuis kos te maak en te onthaal.

“Mense wil ook resepte aandurf wat tradisioneel net in restaurante beskikbaar was. Restaurante sal moet saamleef daarmee, en begin nadink oor maniere om hul geregte te kommersialiseer en verkoop sodat mense dit tuis ook kan maak.”

Kos as medisyne. Mense het ál meer produkte met medisinale of gesondheidswaarde verkies in ’n poging om hul gesondheid en welstand ’n hupstoot te gee tydens die wêreldwye pandemie.

Dink maar wat het so ’n rukkie gelede in Suid-Afrika met die prys van gemmer, knoffel en suurlemoene gebeur! Ander “wenners” was bloubessies en sitrus, en enigiets wat vitamien D bevat.

Fernandez het gesê dit skep ’n geleentheid om kultivars te ontwikkel met groter gesondheidswaarde en meer voedingstowwe.

“Gaan dink na oor hoe jou produkte deel kan wees van ’n dieet wat mense se gesondheid verbeter.

Kan jy byvoorbeeld die antioksidantvlakke in die bloubessies of die vitamien C-vlak in die lemoene wat jy verkoop, verhoog?” Inkopies raak veelkanaal.

Die dae is verby dat kopers slegs by kleinhandelwinkels hul kruideniersware koop. Hulle gaan baie meer van hul inkopies ook deur ander kanale doen, soos direkte tuisaflewering of klik-en-optel sonder om eers uit die kar te klim.

Die struikelblok is dat dié modelle soms duurder is om te bedryf, volgens Fernandez.

“Die vraag is hoeveel van die bykomende koste kleinhandelaars aan kopers sal kan oordra? Of sal verbruikers eenvoudig aandring op aflewerings, maar teen dieselfde prys as om winkel toe te gaan?

Dit is ’n ‘oorlog’ wat in die komende maande en jare gaan woed.”

Sosiale media is jou verkoopsagent. In ’n lewe vol Facebook en Instagram is kopers geneig om hul vriende en beïnvloeders op sosiale lewe meer te vertrou as produketikette.

Winkels en produsente moet dus maniere vind om met hul kopers te skakel en hul vertroue te wen.

“Hedendaagse kopers sal onmiddellik die feite nagaan van enigiets wat ’n verskaffer hulle vertel – en hulle sal veral na vriende, familie en beïnvloeders luister.

Dit is dus belangrik dat jy nie ten prooi val van iemand wat vals boodskappe (fake news) oor jou en jou produk versprei nie.” 

Bestellings word vinnig en doeltreffend afgelewer. Boonop is daar groot geleenthede om meer omgewingsvriendelike verpakking te bied as tradisionele supermarkte.

Boer vooruit met ’n Landbou.com-intekening
Teken in op Landbou.com teen R149 per maand en kry toegang tot gehalte-joernalistiek, alle landboutydskrifte, Landbouweekliks-episodes, boeke en baie meer.
Teken in
Smalls

Besoek ons nuwe webwerf vir geklassifiseerde advertensies en plaas jou advertensie in LBW én aanlyn. Vind ook vinnig en maklik die produk waarna jy soek!

Sien meer
Rand - Dollar
17.08
-0.2%
Rand - Pond
20.91
+0.9%
Rand - Euro
18.65
+0.5%
Rand - Aus dollar
12.10
+0.6%
Rand - Jen
0.13
-0.4%
Platinum
1,020.69
+0.9%
Palladium
1,651.58
-1.1%
Goud
1,912.75
-1.9%
Silwer
23.45
-2.2%
Brent-ruolie
82.84
-3.2%
Top-40
73,629
-0.1%
Alle aandele
79,802
-0.0%
Hulpbronne 10
74,686
-0.6%
Industriële 25
102,624
+0.1%
Finansiële 15
16,551
-0.0%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Besoek ons winkel!

Besoek die LBW-winkel en koop verskillende produkte soos boeke, tydskrifte, klere en meer.

Besoek LBW-winkel
Opsitkers
Lekkerseergemaak
Ek wil weer geluk vind en weet hoe om die regte vrou lief te he en weet hoe om weer een gelukkige Family tw kan wees
Plain Jane
Oor die onnodige drama, wil net die lewe geniet. Goeie hart en weet wat ek uit die lewe wil he 😊
Vind jou perfekte maat nou!
Ek is 'n:
Op soek na:
Ouderdomsgroep: tot