
Die pryse van voedsel gaan na verwagting ‘n plato bereik en dan sywaarts beweeg, wat vir boere ‘n kosteknyptang kan meebring.
Mnr. Jeff Gable, ekonoom van ABSA Capital, skryf in ABSA se landbouvooruitskouing vir 2015 inflasie van boerderytoebehore groei vinniger as wat die verbruikers- of produsenteprysindeks styg.
“Dit benadruk die erns van die kosteknyptang wat boere sal moet bestuur. Boere sal hul produktiwiteit moet verbeter om dit teen te werk.”
Gable sê omdat boere geen beheer oor pryse het nie, moet hulle eerder hul aandag bestee aan onder meer die verbetering van produksievolume, doeltreffender gebruik van produksiemiddele, en uitbreiding van hul vermoë.
Markrisiko, wat prys insluit, bly egter volgens hom belangrik, veral die bestuur van pryswisselvalligheid deur onder meer termynkontrakte.
Gable sê verder boere se vraag na bedryfskapitaal gaan na verwagting groei.
Die nominale koste van intermediêre landbouproduksiemiddele, soos kunsmis, saad, diesel en chemikalieë, het sedert 2005 met 247% gestyg, wat ‘n groeikoers van 30,8% per jaar beteken.
Gable sê in dieselfde tydperk het totale plaasskuld met 181% gestyg, wat 22,6% per jaar beteken. In 1990 was die verhouding van netto plaasinkomste tot plaastoebehore 89,1% en in 2013 was dit net 43,5%.
“Met ander woorde, sou ‘n oes misluk, sou ‘n boer in 1990 sy produksieskuld binne twee jaar kon terugbetaal. Nou sal dit sowat drie jaar neem.
“Dit beteken daar is ‘n groter risiko dat ‘n produsent ná ‘n rampspoedige produksiejaar nie sonder ‘n vorm van skuldbeperking of risikoversagting, soos produksieversekering, in staat is om te herstel nie. Dit beklemtoon die belangrikheid van oesversekering, veral in gebiede met hoë produksierisiko.”