Boere moet nie hul diere wat knopvelsiekte het, met ’n ontsmettingsmiddel inspuit om die siekte te probeer behandel nie, sê mnr. Boitumelo Tshwene, Noordwes se LUR vir landbou, landelike en omgewingsontwikkeling asook omgewingsake. Luidens ’n verklaring is die departement geskok oor bewerings dat sommige boere in die provinsie dit doen in ’n poging om hul diere gesond te maak.
Die siekte kom sporadies voor sedert die groot reëns wat in Desember verlede jaar in die provinsie geval het.
Afkeur
“Ons keur met die sterkste woorde moontlik die geloof af dat diere vir dié siekte behandel kan word deur hulle met Dettol in te spuit,” sê Tshwene. Hy raai boere aan om hul plaaslike veeartse te raadpleeg om die siekte die hoof te bied.
Die virus word deur muskiete onder beeste versprei. Sodra ’n dier dit onder lede het, kan dit aan ander diere oorgedra word wanneer hulle met die dier se speeksel in aanraking kom. Dit kan ook versprei word wanneer diere in gras kom, wat met die speeksel besmet is.
Die department raai boere aan om hulle diere betyds (gedurende die winter) teen die siekte in te ent, aangesien inenting geen doel dien wanneer die dier reeds siek is nie.
2 Maart 2011