Die landbou is nie ’n “Mickey Mouse”-bedryf soos wat dit deur baie individue afgemaak word nie, sê mnr. Johan Pienaar, ’n senior ekonoom van Agri SA.
Volgens Pienaar is die Suid-Afrikaanse voedselbedryf sowat R400 miljard sterk en ’n groot deel van dié bedryf is op die landbou aangewese. “Dit maak sowat 25% van die totale ekonomie uit.”
“Die sektor is dus nie so klein en weglaatbaar soos baie individue reken nie en moenie so aan politiek blootgestel word soos tans die geval is nie,” meen Pienaar.
Pienaar was een van die gassprekers tydens Agri Gauteng se jaarkongres in Pretoria.
Geskok
Pienaar sê dit was vir hom ’n skok om uit te vind hoe oningelig lede van die parlement oor die bedryf is. Hy moes onlangs ’n voorlegging van 20 minute voor ’n portefeuljekomitee doen.
“Die sessie het op die ou end twee uur lank geduur soos die ouens ons gepeper het met vrae oor algemene sake in die bedryf.”
Hoewel baie onsekerhede tans ten opsigte van beleid en die landbou bestaan, reken Pienaar steeds ’n goeie en konstruktiewe toekoms lê vir die bedryf voor. Hy sê hoewel belegging in die landbou nog nie op vlakke is soos voor die ekonomiese afswaai van 2008 nie, is daar steeds deurlopend investering wat plaasvind.
Wat bates betref, word die waarde van Suid-Afrika se plaas- of landbougrond tans op sowat R80 miljard geskat. Die pluimvee- en beesbedrywe is twee van die grootstes in die land, met die pluimveebedryf se jaarlikse omset wat op R25 miljard staan, terwyl beesboerdery se omset sowat R16 miljard is.
Mededingendheid
Suid-Afrika lê tans sewende op die wêreld se skaal van mededingendheid en Pienaar sê hy is bekommerd oor die feit dat die land op dié skaal afgly.
Hy sê baie gaan gedoen moet word ten opsigte van infrastruktuur, soos paaie en telekommunikasie, om te sorg dat die land en die bedryf nie sy greep op mededingendheid verloor nie.
’n Verdere bron van kommer is die afname in die aantal kommersiële boere en plaaseenhede in die land.
Pienaar is egter oortuig daarvan dat die landbousektor ’n belowende toekoms het, veral aangesien die land se netto uitvoer in die vorige boekjaar R12 miljard meer was as die invoer.
9 September 2011