
Een van die boere, mnr. Lourens du Plessis van die Louma-boerdery, het onder meer oor sy sonkragstelsel gepraat. Na sy mening is Suid-Afrika besig om op ’n kragramp af te stuur en hy moedig boere wat alternatiewe energie oorweeg aan om so vinnig moontlik hul stelsel van keuse te probeer kry.
Sy raad aan boere is om die tyd wat nodig is om so stelsel te installeer, in ag te neem en daarom nie te laat te begin nie. Hy sê die eerste drie jaar was die moeilike jare, ná vyf jaar kan boere wel begin gelyk speel en binne tien jaar soortgelyke stelsel afbetaal. (Lees hier meer oor die stelsel wat hy laat installeer het.)
“Boere moet in gedagte hou dit kan tussen ses en agt maande duur om ’n kommersiële stelsel op die been te bring. Batterye moet byvoorbeeld vanaf oorsee bestel word.”
Volgens hom is hul stelsel volhoubaar en bekostigbaar. “Koste-gewys kan so ’n stelsel ’n besproeiingsboer met spilpunte van R65 000 tot R70 000 per hektaar kos, uitgewerk oor tien jaar. “
Hy glo die besigheidsbeginsels en stelsel kan ook werk vir kleiner en middelslagboere.
Du Plessis raai boere aan om soveel moontlik self te doen as dit kom by die stelsel en beplanning daarvan.
Hy het die stelsel self ontwerp en hulp van kundiges gebruik, soos sy projekbestuurder wat ’n kenner op sonkrag is. “Ek het die span bymekaar gesit, self die behoefte bepaal en ook die bedryfsplan saamgestel.”
As daar water is
Mnr. Wouter de Vos, van De Vos-landgoed, boer met makadamianeute by Nelspruit en wend ook alternatiewe energie op sy plaas aan.
Die kapitaalbelegging beloop R300 000 en sluit buiten vir sonkrag ook ’n klein hidrouliese stelsel in. De Vos gebruik ’n kragopwekker (80 kW) indien beurtkrag in skop.
Net soos Helm het hy ook eers sy plaas se kragbehoeftes vooraf vasgestel en navorsing oor stelsels gedoen.
“Ons het twee jaar gelede van die meeste kragpunte ontslae geraak en na een aansluiting geskuif. Só bespaar ons reeds op ons maandelikse koste, hoewel dié ’n baie kapitaalintensiewe operasie was waarby ons nou baat vind.”
Volgens hom het die stelsel al 88 MWh opgewek en bespaar dit hom van 33% tot 35% op sy kragrekening.
Helm gebruik ook ’n kragopwekker om te help as beurtkrag ingestel word.
Die hidrouliese stelsel is volgens hom ’n kleinerige een en hy werk steeds daaraan. “Ons gebruik oorloopwater van kanale, veral gedurende hierdie tyd van die jaar, om krag op te wek en dit weer terug in ons eie stelsel te plaas.”
De Vos plaas nie sy eie opgewekte krag terug in die Eskom-netwerk nie.
“Ons het voor geslote deure by Eskom te staan gekom. Op die oomblik is dit ’n nagmerrie, want in ons gebied is daar nie iemand by Eskom wat spesifiek hiermee kan help nie,” sê De Vos.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.