
Mogoeng het by die Kasteel die Goeie Hoop in Kaapstad die openingstoespraak gelewer op die Mediation Foundation for Peace and Justice se konferensie oor die herstel van die land en die menswaardigheid van sy mense.
Die konferensie was gevul met gebede om vergifnis, versoening en krag van die Skepper om onder meer die pad te wys van hoe die grondkwessie opgelos moet word sonder lyding. Die Parlement se grondwetlike hersieningskomitee moet voor einde Augustus voorstelle maak oor of artikel 25 van die Grondwet gewysig moet word om onteiening sonder vergoeding toe te laat.
Blywende oplossing
“Ons as Suid-Afrikaners is vredeliewende mense. Rakende die grondkwessie streef ons na die oplossing wat in die belang van almal is, die oplossing wat ons almal sal verenig, die oplossing wat blywend is,” het Mogoeng gesê.
“As ons ooit gedink het ons het ’n oplossing bereik, maar dit bevoordeel net sommige mense en nie almal nie, sal dit nie lank hou nie. Ons sal speletjies speel as ons dit regverdig en probeer volhou, maar dit kan nooit vir ewig volgehou word nie.”
Mogoeng, wat ’n lekeprediker is, het gebid dat mense se ongeregtighede vergewe moet word en dat eenheid, vooruitgang en geregtigheid moet geskied.
Tussendeur die gebede het hy gesê as die grondkwessie nie opgelos word nie, sal mense met mekaar baklei. Hy het gesê dat God die oplossing vir die grondkwessie het. “God, gee ons die oplossing vir die grondkwessie, gee ons die oplossing vir die ekonomie . . . God, ons weet U het die oplossing vir die grondkwessie, ons weet die oplossing sal van U af kom!”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.