
Oorstromings wat weens swaar reën verlede week in die Montagu-omgewing voorgekom het, het nie groot skade op plase aangerig nie.
Mnr. Niël Joubert, ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap, sê sommige boere se besproeiingspype het in die slag gebly en opdrifsels het in sommige wingerdstokke agtergebly, maar geen grootskaalse skade is aangerig nie. “Daar is wel skade aan van ons paaie.”
Die Kingnarivier het sy walle oorstroom ná dit op 7 en 8 Augustus hard en aanhoudend in die omgewing gereën het. Volgens Joubert het nóg reën oor die langnaweek voorgekom, maar dit was sagte, deurdringende reën wat nie tot verspoelings gelei het nie.
Cogsmanskloof
Boere in die Montagu-vallei sal binne twee en ’n half maande vrugte begin oes. Joubert sê die Cogmanskloofpas dra in dié tyd baie swaar verkeer om vrugte na Ashton te vervoer, waar dit óf ingemaak óf verpak word vir uitvoer.
Die boeregemeenskap is baie bekommerd oor die skade wat die oorstromings aan die pas aangerig het, aangesien alternatiewe roetes na Ashton ’n “wye ompad sal wees. En ons weet nie of die plaaslike owerheid die skade binne twee en ’n half maande sal kan herstel nie,” vertel Joubert.
Swaar reën het die afgelope naweek oor dele van die Wes-Kaap voorgekom en skadebepalings word tans gedoen.