
Mnr. Peter Cloete, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê dit sal goeie nuus wees indien daar besluit word om die verbod op te hef in die provinsies waar bek-en-klouseer nog nie aangemeld is nie.
Volgens hom het Agri Oos-Kaap sowat ’n maand gelede versoek dat dié provinsie se grense gesluit word vir die beweging van beeste uit ander provinsies. Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het egter gesê hy het nie die nodige mannekrag daarvoor nie. “Toe maak hulle die hele land toe. Waar hulle die mannekrag dáárvoor gekry het, weet ek nie. Dit sal egter baie goeie nuus wees indien die minister besluit om die verbod gedeeltelik op te hef. Dit sal ook goed wees vir die ekonomie.”
Cloete meen ’n mens moet baie versigtig wees om almal met dieselfde stok te slaan. “Die minister móés iets doen om te probeer voorkom dat die siekte handuit ruk. Hopelik kan die verspreiding van die siekte in die res van Suid-Afrika die volgende paar weke onder beheer gebring word.”
Volgens hom sal dit egter ’n kwessie wees om die kuddes in die “rooigebied” in die noorde van die land weer op te bou en die siekte daar in bedwang te hou. “Die rede hoekom bek-en-klouseer versprei het, is omdat die staat en sy amptenare daar nie hul werk gedoen het nie. Hulle moes sorg dat die gebied toegemaak word.”
Cloete sê die verbod is tans veral ’n probleem vir die Oos-Kaap se melkboere aangesien koeie op een plaas kalf en dan na ’n ander geskuif moet word.
Stap in regte rigting
Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê die verbod is ’n baie drastiese maatreël met ’n reuse-impak op verskeie beesverwante bedrywe. “Ek hoop en vertrou dat genoeg konsultasie binne hierdie bedrywe gedoen is om te verseker dat almal gehoor gee aan die verbod.”
Hy sê die gedeeltelike opheffing van die verbod sal ’n stap in die regte rigting vir boere in die Noord-Kaap wees. “Dit sal ons help om te verseker dat die ekonomie aan die gang bly, die ekonomiese impak daarvan versag en daar steeds verantwoordelik opgetree word sodat die doel van die verbod nie ongedaan gemaak word nie.”
Volgens Jansen is dit noodsaaklik dat die ekonomiese impak van die verbod so klein moontlik moet wees. “Ek dink byvoorbeeld aan melkerye waar koeie opdroog in die melkery en dan na goedkoper weiding geskuif moet word om koste te bestuur. Dit is tans nie moontilk nie. Koeie wat kalf, moet ook geskuif word. Ek dink ook aan veilings wat nie kan plaasvind nie, wat ’n reuse-impak op kontantvloei het.
“Daarom is ek dankbaar dat die gedeeltelike opheffing van die verbod oorweeg word. Dit moet egter behoorlik gemonitor word.”
Hy sê hoewel die uitbreking ’n aangeleentheid vir die rooivleisbedryf is en dié bedryf dit ook bestuur, het dit ’n impak op elke individu in Suid-Afrika. “Ek hoop die regering sal in die twee weke van die verbod wat nog oor is, behoorlik beraadslaag met die betrokke bedrywe, dat daar goeie gesprek en samewerking sal wees en dat die uitvoerbaarste plan in werking gestel sal word.
“Ek dink wat boere benoud maak, is dat die huidige verbod baie sterk herinner aan die inperking wat in Maart 2020 aangekondig is. Almal het gedink ons sal ná drie weke na normaal terugkeer, maar toe het dit vir twee jaar daarna steeds ’n impak gehad. Ons moet verseker ons verstaan wat gebeur ná hierdie 21 dae van die verbod, en dat ons optrede nie die ongerief en ekonomiese verliese van hierdie 21 dae ongedaan maak deur dit wat daarop volg nie. Dit kan slegs deur die bedrywe self met die samewerking van die regering bestuur en opgelos word.”
Jansen se pleidooi aan die departement is dat alle belanghebbendes wat deur die verbod geraak is, betrek moet word by planne sodat volhoubare oplossings gevind kan word. “Dit moet nie ’n eensydige interpretasie van die probleem wees met oplossings wat deur die regering afgedwing word nie. Dít is vir Agri Noord-Kaap uiters belangrik.”
Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê hulle verwelkom die aankondiging, asook me. Thoko Didiza, die minister, se benadering om die rooivleisbedryf te beskerm. “Ons besef ook die ekonomiese impak op die rooivleiswaardeketting, en sal uiteraard spoedig wil terugkeer na normaal. Ons is om dié rede optimisties oor die moontlike opheffing van die verbod in provinsies waar bek-en-klouseer nog nie aangemeld is nie. Agri Wes-Kaap is in noue samewerking met die Rooivleisprodusente-organisasie en bedank al die belanghebbendes vir hul leiding die afgelope tyd.”
Mnr. James Faber, voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie, sê dit is duidelik uit die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se verklaring oor die moontlike opheffing dat hy nog besig is met sy bestekopname om die omvang en oorsprong van die uitbrekings te bepaal. “Dit is duidelik dat daar verdere uitbrekings kan kom weens diere wat besmet was voordat die verbod aangekondig is.”
Faber meen dit is goed dat die verbod ingestel is sodat die siekte geïsoleer en ’n beter plan vir die toekoms beraam kan word. “Die gedeeltelike opheffing van die verbod is in die provinsies waar bek-en-klouseer nog nie aangemeld is nie, én sal met baie groot verantwoordelikheid gedoen moet word aangesien ons provinsies se grense nie gepolisieer word nie. Besmette beeste moenie oor die grense van hierdie provinsies beweeg nie.”