
Die nuutste misdaadstatistiek toon dat Suid-Afrika 'n meer gewelddadige land geword het, sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.
Groenewald het kommentaar gelewer op die polisie se statistiek oor misdaad, wat deur mnr. Nkosinathi Nhleko, Minister van Polisie, en genl. Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, bekend gemaak is.
Geweldsmisdade wat mense regstreeks raak, soos moord, roof en motorkapings, het aansienlik toegeneem. Moord het met 5% toegeneem en meer as 17 000 moorde is gepleeg. Suid-Afrika se moordsyfer is nou 32,2 per 100 000 van die bevolking, terwyl die wêreldgemiddeld 7 per 100 000 is. Suid-Afrika se moordsyfer is dus byna vyf keer meer as die wêreldgemiddeld.
“Die korrektheid van die statistiek word ook bevraagteken, aangesien polisiestasies nie die korrekte kategorie van misdaad rapporteer nie. 'n Rooftog word soms as 'n diefstal gerapporteer en baie inbrake word glad nie gerapporteer nie.
“Misdaadstatistiek moet ook meer gereeld bekend gemaak word en behoort kwartaalliks gegee te word. Die huidige statistiek is verouderd en strek van 1 April 2013 – 31 Maart 2014,” sê Groenewald.
Mnr. Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, meen dat groter klem op gemeenskapspolisiëring én die bemagtiging van gemeenskappe nodig is.
AfriForum wys daarop dat 47 Suid-Afrikaners na raming elke dag vermoor word.
“Die statistiek dui ook aan dat basiese misdade nie deur die SAPD gestop word nie. Die oplossing vir geweldsmisdaad gaan gepaard met doeltreffende misdaadintelligensie en vinnige reaksie nadat 'n misdaad gepleeg is.
Gemeenskappe in Suid-Afrika leef in vrees weens onbevoegde en trae optrede,” het hy sê. Roof met verswarende omstandighede het toegeneem met sowat 12,7% en huisrooftogte met 7,4%. Moord het met 5% toegeneem.
Cameron meen dat dié drastiese toename in geweld slegs die hoof gebied kan word deur gemeenskappe op 'n meer doeltreffende wyse te betrek en op te lei om misdaad te bekamp.