
Twee Suid-Afrikaanse omgewingsaktiviste is onder die 227 grond- en omgewingsaktiviste wat wêreldwyd in 2020 vermoor is, aldus die jongste verslag van Global Witness.
Luidens die verslag, Last line of defence, het 18 moorde op die Afrika-vasteland in 2020 voorgekom teenoor 7 in 2019. Landboubesighede en mynbou is elk aan 17 aanvalle in 2020 verbind. Sedert 2015 is hierdie twee sektore alleen verbind met meer as 30% van al die moorde op grond- en omgewingsaktiviste wat Global Witness aangeteken het.
Me. Fikile Ntshangase (65) van KwaZulu-Natal, ’n omgewingsaktivis, is in Oktober verlede jaar in haar huis deur drie gewapende mans doodgeskiet. Sy was die ondervoorsitter van die Mfolozi-gemeenskap se omgewingsgeregtigheidvereniging (Mcejo) wat die uitbreiding van die bedrywighede van die Tendele-steenkoolmyn naby die grens van die Hluhluwe-Imfolozi-natuurreservaat teenstaan.
Lt.kol. Leroy Bruwer (49) van Mpumalanga, wat bekend gestaan het as een van die beste polisiemanne wat renosterstropery beveg het, is in Maart 2020 in Mbombela doodgeskiet terwyl hy op pad was werk toe.
Bevindinge
Colombia was weer die land waar die meeste aanvalle voorgekom het met 65 grond- en omgewingsaktiviste wat in 2020 vermoor is. In ’n derde van die aanvalle was inheemse mense die teikens, en bykans die helfte was kleinboere.
Die meeste van die moorde in Afrika was in die Demokratiese Republiek van die Kongo met 15, wat onder meer ingesluit het 12 wildbewaarders en ’n bestuurder wat doodgemaak is tydens ’n aanval in die Virunga-nasionale park. Daar is ook een moord in Uganda aangeteken.