
Die 34-jarige verdagte wat van die moord op me. Ingrid Koch en poging tot moord op haar man, Frans, aangekla sal word, sal môre in die hof verskyn.
Volgens die nasionale vervolgingsgesag moet die polisie nog die saak se dossier aan die staatsaanklaer oorhandig. Totdat die staatsaanklaer die geleentheid gehad het om die dossier te bestudeer, kan die aanklagte nie bevestig word nie.
Frans (69) en Ingrid (65) is gisteroggend in hul woonhuis op die plaas Klipheuwel in die distrik Moorreesburg op die Hopefield-pad aangeval.
Volgens die plaaslike plaaswag het ’n man die huis tussen 10:30 en 10:40 binnegegaan waar hy die Kochs met ’n mes aangeval het. ’n Huishulp het glo uit die huis ontsnap en hulp ontbied. Die aanvaller is kort daarna deur die werkers op die plaas aangekeer.
Volgens inligting wat Landbou.com ontvang het, was die verdagte nog tot onlangs in aanhouding. Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê aangesien die verdagte se identiteit nog nie bekend gemaak is nie, kan sy misdaadrekord nie bespreek word nie.
Plaasaanvalle nie prioriteit
Dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en provinsiale leier in die Wes-Kaap, sê die voorval is ’n duidelike bewys dat dié soort misdaad tot prioriteitsmisdaad verklaar moet word.
“Die VF Plus stem saam met Agri Wes-Kaap dat een plaasmoord een te veel is. Die VF Plus sal aanhou veg vir ’n noodsaaklike spesiale landelike beveiligingseenheid wat hom toespits op die voorkoming van plaasaanvalle en wat met die samewerking van boere en ander veiligheidsforums hierdie soort misdaad bekamp.”