
Meer as 2 500 mense wêreldwyd het gister aanlyn toegekyk toe die 329 jaar oue Stellenbosse wynlandgoed Morgenhof tydens ’n virtuele veiling onder die hamer kom. Dit is vir R52,25 miljoen aan ’n Europese koper verkoop.
Volgens High Street Auctions, wat die veiling behartig het, is dit die oudste eiendom wat nog in Suid-Afrika opgeveil is.
Mnr. Joff van Reenen, direkteur en hoofafslaer by High Street Auctions wat die veiling behartig het, sê die reaksie op die veiling was ongekend. Hulle het 150 navrae uit 15 lande daaroor ontvang en die aanlyn bemarkingsveldtog is meer as 2,4 miljoen keer besigtig.
Morgenhof is voor die veiling besit deur me. Anne Cointreau, wie se familie sedert 1272 wyn, sjampanje en spiritus in Frankryk produseer. Haar oupagrootjie Adolphe het die bekende lemoenlikeur wat die familie se naam dra, ontwikkel. Morgenhof het ’n lang verbintenis met die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Die plaas se wynmaakgeskiedenis wat in 1692 begin het, kan teruggespeur word tot by die Franse Hugenote.
Anne sal nou terugkeer na Frankryk om af te tree en tyd saam met haar familie deur te bring.