
'n Organisasie van motorfietsryers, Bikers Ride Against Farm Murders, beoog om op Sondag 7 Mei hul afkeer in plaasmoorde ten toon te stel deur 'n byeenkoms by Hartbeespoort.
Mnr. Phillip Davis van Bikers Ride Against Farm Murders, sê in 'n nuusverklaring die organisasie het besluit om dié gesamentlike byeenkoms by die Cock and Bull by Hartebeespoort te hou. “Ons word deur motorfietsryers in elke provinsie in die land verteenwoordig en omdat Gauteng en Noordwes so na aan mekaar is, het ons besluit om die gesamentlike byeenkoms Sondag te hou."
Motorfietsryers sal van verskillende vertrekpunte af na Hartebeespoort ry. “Ons wil graag meer doen as net 'n “run”. Ons wil graag die besef tuisbring dat plaasmoorde ons almal raak. Dit raak ons geliefdes en vriende, dit raak ons families en dit raak die kos op ons tafel,” sê Davis.
Groepe motorfietsryers
Die konsep is dat klein groepe motorfietsryers van oor die land by groot winkelsentra in en om Gauteng en Noordwes bymekaarkom. Daar sal aan die algemene publiek iets uitgedeel word as onderskrywing van ons inisiatief. (Sien die meegaande foto.)
Davis sê Invictus Tactical, 'n sekuriteitsmaatskappy, het ook by dié inisiatief betrokke geraak en gaan vyf kursusse vir gelukkige deelnemers borg. Die kursusse wissel van selfverdediging, basiese brandblus-tegnieke, vuurwapenbevoegdheid en noodhulp. Kaartjies om een van hierdie kursusse te wen sal teen R50 te koop wees, en die trekking vir die gelukkige wenners sal om 13:00 plaasvind.
“Ons het 'n stem, en ons kan dit laat hoor. Ons is nie 'n enkele persoon nie, maar 'n groot, passievolle en lojale groep en ons kan 'n verskil maak,” sê Davis.